OUDTSHOORN NUUS - 'n Pa van twee klein kindertjies is die afgelope naweek op die De Hoop-pad doodgery.
Volgens Chris Geduld (32) se vriendin, Clara Alexander (36), was sy en Geduld 'n geruime tyd saam.
"Ons het twee kinders saam. Casiva is twee jaar oud en Shanté is vyf. Hy het op 'n plaas hier in De Hoop gewerk," vertel sy.
Volgens haar het sy en Geduld en 'n familielid Saterdagaand uit die dorp uit huis toe geloop. Hulle woon naby die kanaal in die De Hoop-omgewing.
"Ek het iewers begin dors raak en vir hulle gesê ons moet gou stop vir water. Ons is by 'n nabygeleë huis in om water te gaan haal. Hy het gesê hy gaan langs die pad wag. Ek weet nie of hy in die pad geloop het of langs die pad gesit het nie."
Alexander sê terwyl hulle op pad terug was na Geduld toe, het hulle 'n harde slag gehoor.
"Ons het gedink dit is 'n band wat bars. Toe ons teen die pad kom het ons gesien hy lê in die pad. 'n Voertuig het bo-oor hom gery."
Alexander sê daar het 'n bakkie en 'n ambulans gestaan. Die ambulans was glo per toeval ook op daardie pad. Hy is op die toneel dood verklaar.
Sy het hom as 'n goeie pa beskryf.
"Hy was lief vir sy kinders en het gewerk vir hulle. Hy het ook nie aan mense gekarring wat hom nie gepla het nie."
Die familie is besig om begrafnisreëlings te tref.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die speurders besig om die saak te ondersoek.
"Die man is op die R62 tussen Oudtshoorn Calitzdorp op 13 Mei doodgery. Die ongeluk het ongeveer 22:05 gebeur. Die polisie is na die toneel ontbied en 'n man is met veelvuldige beserings op die toneel aangetref. Hy is deur paramedici dood verklaar."
Chris Geduld (32)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’