OUDTSHOORN NUUS - Raadslede Suzane Jansen (PA), Leon Campher (Dysselsdorp Advieskantoor) en Colan Sylvester (OGI) is tydens Maandag se raadsvergadering deur speaker Johan Allers (VF Plus) ingelig dat daar tans 'n tugondersoek teen hulle aan die gang is.
Jansen het in reaksie hierop dadelik op 'n punt van orde gereageer en gesê dat sy nie kan toelaat dat haar naam deur die modder gesleep word sonder 'n geldige rede nie.
Sy het ook daarop aangedring dat bewyse aan haar bekendgemaak kan word sodat sy dit aan haar PA-partybestuur kan stuur.
Volgens 'n brief in besit van Oudtshoorn Courant, geadresseer aan Jansen, word sy van 'n "moontlike oortreding van die gedragskode vir raadslede" aangekla. Die brief stipuleer dat "die ondersoek spruit uit 'n poging om die groter Oudtshoorn-munisipaliteit deel te maak van die Sentraal Karoo-distriksmunisipaliteit se beplande voorstel aan die munisipale afbakeningsraad. "In hierdie verband was dié 'n poging om Oudtshoorn, Kannaland en Touwsrivier by die Sentraal Karoo-distriksmunisipaliteit in te lei," lui die brief.
Jansen word volgens die brief sewe werksdae gebied om te reageer. Allers is herhaaldelik deur die ANC se hoofsweep, Zwelakhe TyaTya, Campher en Sylvester versoek om die aard van die ondersoek bekend te maak, waarop Allers gesê het dat hulle nie moet 'worry' oor die klagtes nie.
Allers het dit ook duidelik gemaak dat hy nie die klagtes in die raad gaan bespreek nie, maar dat hy volgens wetgewing verplig is om aan die raad bekend te maak dat daar wel 'n ondersoek sal volg.
Beide Campher en Sylvester was totaal oorbluf met hul implikasie en was dit eens dat daar geen kommunikasie vooraf met hulle in verband met die klagtes was nie en dat hulle dit onaanvaarbaar vind.
Sylvester het ook aan die raad genoem dat hy dit vreemd vind dat die "ondersoek" teen hom kom direk nadat hy die provinsiale uitvoerende raad (LUR) versoek het om 'n forensiese ondersoek teen die Oudtshoorn-munisipaliteit van stapel te stuur vir ernstige finansiële wanbestuur en dat dit voorkom asof dit 'n tit-for-tat situasie is.
Oudtshoorn Courant kon teen druktyd nie die aard van die klagtes teen Campher en Sylvester bevestig nie. 'n Navraag hieroor is aan die munisipaliteit gestuur.
Munisipale bestuurder bedank
Walter Hendricks, waarnemende munisipale bestuurder van die groter Oudtshoorn-munisipaliteit, het tydens verlede Donderdag se spesiale raadsvergadering bekendgemaak dat hy uit sy posisie bedank. Hendriks is sedert September 2021 vir drie maande in die pos aangestel waarna sy kontrak deur die raad verleng is.
Hendricks se aanstelling is op daardie stadium as omstrede beskou omdat hy toe kriminele klagtes vir tenderbedrog en korrupsie in die gesig gestaar het toe hy in diens van George-munisipaliteit was. Raadslid Abraham Tiemie (ANC) het tydens die raadsvergadering tong in die kies opgemerk dat hy "jammer" is dat hy Hendricks 'n harde tyd gedurende sy termyn gegee het. Hy het Hendricks nietemin voorspoed toegewens.
Die proses om 'n nuwe munisipale bestuurder binne die volgende 30 dae aan te stel is tans aan die gang met die kandidate-kortlys wat reeds gefinaliseer is.
Nuwe werksure vir die administratiewe personeel
Die munisipale raad aanvaar die nuwe voorgestelde werksure met die voorwaarde dat geen etenstyd op 'n Vrydag geneem mag word nie. Die nuwe werksure sal oor drie maande geëvalueer word om vas te stel of dit enige inbraak op dienslewering sal maak.
Burgemeester Chris Macpherson het gesê dat werknemers slegs geregtig is op 'n halfuur etenstyd en dat dit as sulks, onmoontlik is om huis toe te gaan en weer terug te keer vir ete. In dié verband het hy versoek dat toesighouers die aandienstye streng moet reguleer.
Die nuwe werkure is as volg:
Maandae tot Donderdae 07:45 tot 15:30
Vrydae 07:45 tot 12:30
Leon Campher
Colan Sylvester
Johan Allers
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'