OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Thomas Booysen (45) en sy 7-jarige dogtertjie, Sphesihle Witbooi, is in rou gedompel na beide van hulle Saterdagaand, 2 November, dood is na hul informele struktuur onverklaarbaar aan die brand geraak het.
Booysen was 'n algemene werker by die Oudtshoorn-munisipaliteit en Sphesihle 'n gr. 1-leerder by De Villiers Primêr.
Linda Witbooi (die ma), Thomas, hul 5-jarige seuntjie Sphelele en Sphesihle was in die huis toe die struktuur aan die brand geraak het.
Linda kon daarin slaag om hul seuntjie betyds uit die struktuur te kry, maar was te laat om Thomas en haar dogter te kon red. Haar ander drie dogters, Siyamthanda (21), Emihle (18), Sihle (15) en haar seun, Asakhe (11) was buite die woning toe dit begin brand het. Sy vertel dat sy self nie weet wat gebeur het nie.
"Ons het geslaap en ek het wakker geword toe is daar net blou vlamme oral. Ek het Sphelele gegryp en uitgehardloop. Alles het so vinnig gebeur. Voor ek heeltemal tot besef gekom het wat aangaan, was alles verby."
Samora Booysen, Thomas se broer, vertel dat die gebeure van Saterdagaand en dit wat hy by sy broer se huis gesien het, hom vir ewig sal bybly.
Hy het laat Saterdagaand die oproep ontvang oor sy broer se woning wat brand.
"Ons het so gou moontlik daar probeer uitkom, maar alles was reeds verby en die woning was tot op die grond afgebrand toe ons daar op daag. Ons is geskok na die voorval, veral die feit dat Linda en die 5-jarige net betyds uit die struktuur kon vlug. Sy kon niks doen toe die vlamme hulle oorval nie en kon slegs aanskou hoe haar man en kind doodbrand. Die ander kinders is ook getraumatiseer."
Samora vertel toe hy op die toneel opdaag het hy die polisie, brandweer, asook forensiese dienste op die toneel gesien en geweet dat dit nie goeie nuus was nie.
"Op die toneel het hulle my gevra of ek die mense ken. Sy liggaam het op die bed gelê en het so sleg verbrand dat ek hom nie kon uitken nie, maar ek het geweet dit kan net my broer wees - dit is sy huis en sy familie. Sphesihle se gebrande liggaam is in die hoek agter Thomas se bed gevind. Sy was styf opgekrul en dit het gelyk of sy vir die vlamme probeer wegkruip het."
Die familie is nog nie seker van die begrafnisreëlings nie aangesien hul nog op DNS-uitslae wag om pa en dogter se identiteite te bevestig.
"As Xhosa's is dit ons tradisie om nie te lank te wag om ons mense te begrawe nie, so die is 'n teer punt vir ons. Ons moet egter op die polisie en die DNS-uitslae wag."
Sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat die polisie die omstandighede rakende die brand ondersoek en dat enigiemand wat moontlik inligting rondom die brand het Crime Stop by 08600 10111 moet skakel.
Gemeenskapsleier en raadslid, Leon Campher, het Maandagmiddag, 4 November, die familie in Bridgton besoek om sy medelye oor te dra, asook om die nodige steun te bied. Campher beplan 'n kranslegging Donderdagmiddag, 7 November om 16:00 in GG-kamp, waar die voorval plaasgevind het as laaste eer en ondersteuning aan die familie. Hy het die gemeenskap om saam met Oudtshoorn Community Against Crime die familie te ondersteun.
Skenkings gevra
Linda en haar kinders het al hul besittings in die brand verloor en is Campher, asook gemeenskapslede besig om skenkings in te samel vir die familie.
"Ons doen ook 'n beroep op lesers wat ons kan help met enige skenking om met my kontak te maak of met Rozelda Laban by 083 397 0186.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’