Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Kruge Roeloffze (61) en sy dogter Maryke (30) het op 8 September Afrika se hoogste berg, Mount Kilimanjaro, se piek bereik.
Dit nadat hulle die agt dae staptog, wat jou deur verskillende terreine neem wat wissel van digte reënwoude, klipperige roetes, tot sneeubedekte en ysbelaaide hoogtes, voltooi het.
Kilimanjaro se piek lê op 'n hoogte van 5 895 meter bo seespieël en word internasionaal beskou as een van die mees ikoniese staptogte ter wêreld.
"My dogter het die eerste keer Kilimanjaro in die film The Lion King gesien en net daar besluit sy wil die berg voor haar 30ste verjaarsdag klim. Sy het 'n week na haar 30ste verjaarsdag die piek bereik."
Volgens Roeloffze het hy goed voorbereid op die tog gegaan. "Ek het Vensterberg, die Bone Crusher en Keurkop geklim, en ook Georgepiek aangedurf om my voor te berei vir die dag wat ons die piek bereik. Elke fase van die tog na Kilimanjaro behels stap en klim."
Wat hom opgeval het is hoe stowwerig dit op die berg is.
Roeloffze en sy dogter se onder-steuningspan was 19 man sterk en het twee gidse en 'n kok ingesluit en die res het gesorg dat alle toerusting by hul volgende punt kom. "Met ons aankoms kon ons net afpak en rus. Alles was gedoen. As jy by die kampe opdaag, was die kos gaar, slaapplek was reg en kon stappers rustig die dag se staptog herleef en beplan vir die volgende dag se stuk."
Omdat die groep so nou saambeweeg word hegte bande gevorm en is elkeen 'n bynaam deur die gidse gegee, ek was Mountain Man, my dogter is Dusty gedoop en twee stappers wat saam met ons die berg aangepak het was Shorty en Jingle Joy.
VIDEO:
Roeloffze noem dat hy nie kan verduidelik wat die staptog aan mens doen nie. "Dit is meer as 'n fisiese stap; emosioneel en psigies werk dit ook op mens, maar die ongelooflike natuurskoon slaan mens se asem weg.
Om Kilimanjaro te klim is fisies meer as wat mens dink, sekere dele, soos die Barranco-muur is nogal baie tegnies. Dit was ook nie lekker om helikopters op die berg te sien wat klimmers afhaal nie, want nie almal maak dit tot op die piek nie."
Suurstofvlakke daal met sowat 50% hoe nader 'n mens aan die piek kom, wat daartoe lei dat talle klimmers nie die eindpunt bereik nie. Benewens die risiko van hoogtesiekte, raak baie stappers ook uiters uitgeput weens die dae lange fisieke inspanning.
Die laaste nag is uitputtend, jy klim sowat 1 285 meter in ysige temperature van ongeveer -10°C om die piek te bereik. Maar vir dié wat dit maak, is Uhuru-piek absoluut lonend, 'n sonsopkoms oor Afrika vanaf die hoogste punt van die kontinent is onbeskryflik mooi.
Kilimanjaro is die grootste dormante vulkaan in Tanzanië en die hoogste berg in Afrika. Dit word ook 'n stratovulkaan genoem en bestaan uit drie keëls naamlik Kibo, Mawenzi en Shira. Kibo is die piek en die hoogste van die drie vulkansiese formasies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’