OUDTSHOORN NUUS - Die Outeniqua-streekraad van die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA) het Sondag 19 April sy 50ste bestaansjaar op luisterryke wyse by die Pacaltsdorp UCCSA-gemeente gevier.
Honderde gemeentelede van die streek se 17 kerke, saam met 'n groot aantal dienende en afgetrede leraars, het die besondere mylpaal bygewoon.
Die dankseggingsdiens is voorafgegaan deur 'n optog vanaf die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal na die kerk. Kore, vroue- en jeugverenigings asook verskeie kerkorganisasies het aan die optog deelgeneem en Brigade-orkeste het die optog begelei.
Tydens die diens is afgestorwe leraars vereer toe familielede kerse ter nagedagtenis aangesteek het.
Sertifikate van dankbaarheid en spesiale kerse is aan families oorhandig, terwyl dienende en afgetrede leraars ook erkenning en geskenke van die sinode ontvang het.
Die feesboodskap is deur Haidee Petersen, voorsitter van die SA Sinode, gelewer. Petersen het saam met Brandon Swartz, algemene sekretaris van die SA Sinode, die nagmaal bedien.
Petersen het in haar boodskap beklemtoon dat die viering meer as net 'n verjaarsdag is.
"Ons vier nie net 'n 50ste verjaarsdag nie. Ons vier 50 jaar van genade, opoffering, lof en getuienis. Ons moet bid dat ons kinders weer hul plek in die kerk vind, want hulle is die generasie van môre."
Die Outeniqua-streekkoor, onder leiding van Sue Ewerts van die Oudtshoorn UCCSA en begelei deur John Theodore van die Weyers Memorial UCCSA, het die sangstukke gelewer.
Historiese terugblik
Die Outeniqua-streekraad is op 1 Febru-arie 1976 by die UCCSA in Bridgton, Oudtshoorn, gestig, met die inhuldiging van die eerste ampsdraers deur John F Thorne, destydse algemene sekretaris van die kerk.
FTD Kulsen van Willowmore was die eerste sekretaris van die nuutgestigte streekraad, wat aanvanklik uit tien gemeentes bestaan het. Sedertdien het die streek gegroei tot 17 kerke, met nuwe gemeentes en naamsveranderings wat die nalatenskap van kerkpioniers soos Kulsen, evangelis H Weyers, HJ Blazey en JF Newman voortdra.
Vandag sluit die Outeniqua-streek gemeentes soos Bongolethu, Bridgton, Calitzdorp, Dysselsdorp, George, Groot-Brakrivier, De Rust, Oudtshoorn, Pacaltsdorp, Uniondale en verskeie ander gemeentes in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’