OUDTSHOORN NUUS - 'n Inwoner (45) van Oudtshoorn wat 'n sakeonderneming in George het, is Dinsdagoggend so erg in sy kantoor aangerand dat hy operasies aan sy gesig sal moet ondergaan.
Een van sy beweerde aanranders is later dieselfde dag na 'n wilde polisiejaagtog en skote in Mosselbaai in hegtenis geneem.
Die 30-jarige verdagte is in Marshstraat in Mosselbaai gearresteer nadat die polisie die voertuig se bande stukkend geskiet het.
Die aanranding het Dinsdagoggend plaasgevind toe die aangekeerde, sy broer en hul pa, na bewering in 'n argument oor 'n salaris, met die sakeman betrokke was.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die drie mans omstreeks 10:00 die slagoffer se besigheid betree.
'n Rusie het ontstaan waarna hulle na bewering die slagoffer baie ernstig aangerand het.
Hy is bewusteloos en met ernstige beserings aan sy gesig en kop na die hospitaal geneem.
Volgens onbevestigde inligting het die drie mans die slagoffer se kantoordeur van binne versper en die man herhaaldelik aangerand voordat hulle gevlug het.
Die 30-jarige verdagte het ná die aanranding in die slagoffer se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel, in die rigting van Mosselbaai, gejaag.
Sy pa en broer het glo met 'n Toyota-bakkie, wat ook aan die besigheid behoort, gevlug. Hulle is later die aand in George in hegtenis geneem.
Lede van die polisie se misdaadvoor-komingseenheid in George het die Isuzu, wat teen 'n hoë snelheid op die N2 gejaag het, gesien en versterkings ingeroep.
Verskeie padblokkades is onderweg na, en in Mosselbaai opgestel om die man aan te keer, maar hy kon daarin slaag om die polisie te ontduik.
Ná talle waarskuwingskote was die polisie genoop om op die verdagte se voertuig te skiet. Een van die bande is getref en hy moes noodgedwonge stop.
Die verdagte, Iyan Kent (30) was tot Woensdagmiddag in die selle by die Da Gamaskop polisiestasie aangehou. Sy broer, Divan (27) en pa Lionel (54) is in George aangehou.
Al drie het gister in die George-landdroshof verskyn.
Hulle word aangekla van aanranding (ernstig), poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en motordiefstal. Iyan staan ook op 'n vyfde klag, roekelose en nalatige bestuur, tereg.
Die saak is tot 8 Febraurie vir bortogaansoeke uitgestel en hulle bly intussen in aanhouding.
Die eggenote van die slagoffer het gevra dat haar man se identiteit nie op hierdie stadium bekend gemaak moet word nie.
Sy het telefonies aan die Oudtshoorn Courant bevestig dat haar man gister uit die hospitaal ontslaan is en tans by die huis aansterk.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'