OUDTSHOORN NUUS - Wat begin het as 'n gewone, ontspanne dag by die seer vir Mathys Pienaar (21), sy meisie Liané Colling en haar familie, het Saterdag 5 Oktober geeindig in 'n besoek by die hospitaal na hy deur 'n rob aangeval is.
Pienaar is 'n inwoner van Oudtshoorn en is tans besig met sy studies om om 'n kommersiële vlieënier te word. Colling en haar familie woon in Mosselbaai.
Aanvalle deur robbe langs Mosselbaai se kus is nie 'n nuwe gebeurtenis nie, maar met sommige robbe wat onlangs positief vir hondsdolheid getoets het, is hierdie aanvalle 'n groot rede tot kommer.
Pienaar was een van twee mense wat Saterdag deur 'n rob aangeval is terwyl hulle in die water van Santosstrand was.
"Dit was 'n lekker dag en baie mense het geswem. Liané se pa het lank voor ons geswem. Hy was nie vreeslik diep in nie - seker net tot ander kant die sandbank. Ek het vir Liané en haar suster gesê ons moet ook gaan swem. Ek was net 'n klein rukkie in die water toe ek voel iets trek my aan my been. Ek het my hand af onder toe gedruk en seker in sy mond gedruk, want my hand is vol snymerke. Toe voel ek hy byt regtig. Ek kon hom af slaan van my af."
Hy is aan been, hand en knie gebyt.
Liané se pa het vir sy dogters gesê om uit die water te klim, maar Pienaar was in te veel pyn en is uit die water gehelp.
Op die strand het lewensredders hom behandel en 'n ambulans het hom na Life Bay View privaathospitaal vir behandeling geneem. Hier het hy 'n tetanus-inspuiting gekry en moes daarna na George-hospitaal oorgeplaas word waar hy voorkomende behandeling vir hondsdolheid gekry het.
Volgens Life Bay View-hospitaal was daar nie 'n groot aanvraag vir die behandeling van hondsdolheid nie, maar het dit verander met die onlangse styging in hondsdolheid-besmette robbe. Daar was George-hospitaal die enigste hospitaal met voorraad vir noodgevalle.
"In die lig van die veelvuldige aanvalle Saterdag, en met die vakansieseisoen wat voorlê, sal Life Bay View nou 'n beperkte voorraad van beide inspuitings hou ter voorbereiding vir enige toekomstige voorvalle,” het die hospitaal gesê.
Hy is kort na die behandeling ontslaan.
Pienaar sê hy het glad nie verstaan wat gebeur nie en het nie eintlik eers besef dat hy gebyt word nie. "Ek het dit eers besef met die hou aan my knie. Dit was nogal seer. Ek is net bly ek het nie so ernstig seer gekry nie."
Volgens hom moet hy gaan vir 'n reeks inentings teen hondstolheid.
"Dit is vier ente al te saam waarvan ek al twee gekry het. Jy kry die ente 'n paar dae uit mekaar uit."
Behalwe vir die feit dat hy steeds nie kan glo dat 'n rob hom gebyt het nie, gaan dit goed met Pienaar en is die herstel proses "relatief pynloos."
• Die tweede slagoffer, Steven Macdonald (56), het ook by Santo's geswem toe hy deur 'n groot rob aangeval is. Macdonald sê hy swem gewoonlik alleen en taamlik ver in die water. Volgens hom was hy omtrent by die boeilyn by Santo's toe “die aanval uit die niet gekom het”.
Macdonald sê hy het 31 steekwonde aan sy bene en voete opgedoen en moes ’n operasie ondergaan en moes hy ook behandeling vir hondsdolheid ontvang.
Die tweede robaanval het ongeveer 'n uur ná Pienaar s'n plaasgevind. Dit is onduidelik of dieselfde rob albei slagoffers aangeval het, aangesien twee ander robbe ook gewaar is.
Lewensredders het swemmers aangemoedig om uit die water te klim terwyl die voorval hanteer word, hoewel sommige die waarskuwings geïgnoreer het.
Die DBV en S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team ) was albei op die toneel. Hulle kon die robbe in die branders sien, maar kon nie sien watter een gebyt het nie.
Dié organisasies, sowel as die Mosselbaai-munisipaliteit het die publiek versoek om uit die water te bly indien robbe in die omgewing opgemerk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’