OUDTSHOORN NUUS - In Oudtshoorn is sy bekend as die 'Crazy Cat Lady', maar agter dié bynaam skuil 'n vrou met 'n sagte hart en 'n sterk roeping. Lee-Ann van Sittert wy haar lewe aan die versorging en beskerming van katte, diere wat dikwels oor die hoof gesien word in tradisionele dierewelsynswerk. Lee-Ann is een van die vroue in die gemeenskap wat stil-stil 'n reuseverskil maak.
Vir die afgelope 15 jaar help Lee-Ann waar sy kan, mens of dier, maar haar hart klop veral vir katte.
"My reis het met beide honde en katte begin, maar dit het gou duidelik geword dat katte die meeste ly," sê sy.
"Ek het my fokus verskuif na die sterilisering van katte, die redding van ouer katte en katte met spesiale behoeftes, en die implementering van Trap-Neuter-Return (TNR) programme vir wilde katte."
Lee-Ann voer, versorg, red en steriliseer katte. Sy soek ook liefdevolle huise vir dié wat kans het op 'n nuwe lewe. Haar werk is nie maklik nie. Katte teel vinnig aan, en nie al die kleintjies oorleef of kry 'n huis nie. Volwasse katte word dikwels agtergelaat wanneer mense verhuis, en dit is bitter moeilik om vir hulle nuwe tuistes te vind.
Twee stories staan vir haar uit, een hartverskeurend, die ander inspirerend. "Ek het eendag op 'n wilde kat afgekom wat wreed met 'n klip geslaan is. Dit het my naar en woedend gelaat. Dit beklemtoon die wreedheid wat katte dikwels in die gesig staar. Maar dan was daar ook 'n ander wilde kat wat ek gered het, mak gemaak en lief gehad het. Dit is stories soos hierdie wat vir my gewys het hoe 'n klein bietjie deernis 'n verandering kan maak."
As vrou wat al vir jare in 'n veld werk wat dikwels onderskat word, glo sy Vrouedag is 'n herinnering aan die belangrikheid van elke vrou se stem.
"Aan die vroue en meisies daar buite sê ek: staan op vir jouself en jaag jou drome na. Niks is onmoontlik nie."
Sy doen ook 'n beroep op die gemeenskap van Oudtshoorn om haar en ander dierewelsyns-organisasies te ondersteun.
"Jy kan op baie maniere help, doen vrywillige werk, skenk kos, of borg sterilisasies. My doel is eenvoudig: om 'n verskil te maak in die lewens van katte.
"Soos Moeder Teresa gesê het: 'Nie almal van ons kan groot dinge doen nie. Maar ons kan klein dingetjies met groot liefde doen'."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’