OUDTSHOORN NUUS - Daar is 'n groot toename in buitelandse toerisme sedert die Oudtshoorn-streek oorsee bemark word.
So sê Billy Engelbrecht, voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekomitee.
Lede van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor het Januarie en Februarie drie oorsese toere, sowel as die SA toerismeskou in Johannesburg bygewoon waar die streek breedvoerig bemark is.
Volgens Engelbrecht het Andries van Schalkwyk van Buffelsdrift en Shanel Lambrechts van Surval Boutique Estate, saam met Corleen Barnard, toerismebestuurder, die Vakantiebeurs in Nederland gedoen.
"Volgende op die lys was Indië en vanjaar is Sri Lanka ook by die toer ingesluit. Hier het Alison Moos en Tammy Moult onderskeidelik ook die Kango-grotte en Cango Wildlife Ranch bemark.
"Van ons lede is daarna na Duitsland en Corleen het die Beeld Expo in Johannesburg bygewoon. Saam met haar was Jan en Theresa Venter van House Martin Guest Lodge in De Rust."
Engelbrecht beskou die toere as geweldig suksesvol en sê dat daar definitiewe groei in toerisme is sedert die toere gereeld gedoen word.
Van links is: Shanel Lambrechts, Andries van Schalkwyk en Corleen Barnard.
"As ons die Kango-grotte se syfers van 2016 met die van 2017 vergelyk is daar 'n definitiewe groei in buitelandse toeriste. In 2017 was daar 60% van die toeriste buitelanders en net 40% plaaslike toeriste. En in 2016 as daar 57% oorsese toeriste by die Grotte."
Volgens hom is die buitelandse toeriste ook 'n groot finansiële hupstoot vir die dorp.
"Plaaslike toeriste spandeer soms net 'n dag hier, maar buitelandse toeriste bly langer. Dit beteken dat hulle in ons gastehuise en hotelle bly en hulle spandeer ook aansienlik meer geld in die dorp omdat hulle geldwaarde sterker is as Suid-Afrika s'n."
Engelbrecht sê hy trots op die dorp se toerismebemarking.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'