OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het op Woensdag 4 September, ná 'n oop en deursigtige tenderproses om die Oudtshoorn-lughawe namens die raad te bestuur en te bedryf, nog 'n diensvlakooreenkoms van 9 jaar en 11 maande met TFASA (Test Flying Academy of South Africa) aangegaan.
Kragtens hierdie ooreenkoms sal TFASA as die bestuursagent optree terwyl die munisipaliteit die eienaar sowel as die lisensiehouer bly. Die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het die kontrak met Jean Rossouw van TFASA onderteken.
Sleutelaspekte van die ooreenkoms sluit in:
- TFASA sal 'n omvattende vliegveldmeesterplan, 'n strategiese sake-/bemarkingsplan en 'n vliegveldbedryfshandleiding ontwikkel.
- 'n Bestuurskomitee sal saamgestel word, bestaande uit verteenwoordigers van TFASA, die munisipaliteit wat sal toesien dat die ooreenkoms volgens tenderspesifikasies geïmplementeer word. Hierdie komitee sal toesig hou oor lughawebedrywighede en gereeld vergader om die lughawe se doeltreffende bestuur te verseker.
- Alle nuwe aansoeke vir skure (hangars) of ander ontwikkelings op die vliegveld sal die verantwoordelikheid van TFASA wees.
- TFASA sal ook verantwoordelik wees vir die bestuur van lugverkeersdienste, brandstofvoorsiening, landingsfooie en uitbreidingsplanne vir die lughawe.
Hierdie samewerking het ten doel om die veiligheid, sekuriteit en langtermyn volhoubaarheid van die Oudtshoorn-lughawe te verbeter en dit as 'n belangrike ekonomiese katalisator vir direkte en indirekte beleggings te posisioneer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’