Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Oudtshoorn het onlangs twee terapiehonde gekry en hulle het verlede week Laerskool Laurus besoek en leerders gehelp om hul leesvaardighede op te skerp.
Petra du Toit, van Caring Friends Therapy Dogs en stigter van Happy Tails Dog Training, oorspronklik van die Vaaldriehoek-omgewing, het onlangs na Oudtshoorn verhuis en hoop om haar en haar twee terapiehonde, Aleks, 'n swart Russiese terriër en Kimba, 'n golden retriever, se dienste aan mense te gee.
Sy bied die klasse saam met haar twee dogters, Annika en Tanja aan. Tanja is besig om haar studies te voltooi en help dus vir eers in Vanderbijlpark met die honde-opleiding.
Du Toit lei reeds sedert 1994 honde op en het haar gevorderde hondegedragsdiploma in 2003 by die Pretoria Technicon verwerf. Sy is sedert 2015 internasionaal by die Certification Council for Professional Dog Trainers gesertifiseer en was die eerste Suid-Afrikaner wat dit behaal het en dien ook op die raad vir South African Board for Companion Animal Professionals.
Volgens Du Toit kan terapiehonde gebruik word vir kinders en volwassenes en is daar al verskeie suksesstories in die gebruik van terapiehonde.
"Ek het ondermeer 'n hond opgelei vir iemand wat diabetes het. Die hond het dus geruik wanneer die suikervlakke van die persoon sou verander en kon 'n indikasie gee dat daar moontlik iets op pad is sodat die persoon vinnig genoeg hulp of medikasie kon kry," het Du Toit vertel. Du Toit sê dit is egter nie al waarvoor ondersteuningshonde gebruik word nie.
"Ons neem byvoorbeeld honde na skole en tehuise vir bejaardes waar hulle onder meer emosionele ondersteuning aan mense bied. Dit is al oor en oor bewys dat honde geestelike en emosionele gesondheid bevorder en help baie wanneer persone angstig is of selfs aan depressie ly. Terapiehonde kan ook sosiale vaardighede en kommunikasie bevorder en verbeter fisieke interaksie van studente met hul portuurgroep en onderwysers."
"Hulle het hulle besoek aan die skool vreeslik geniet en ek dink die kinders het ook iets geleer."
Volgens haar is hulle op soek na honde-eienaars met honde wat 'n goeie temperament het om as terapiehonde te dien.
"Ek doen ook opleiding en evaluasie met die eienaars en die honde om van hulle beter terapiehonde te maak."
Du Toit doen ook deur haar Happy Tails Dog Training honde-opleiding met honde-eienaars wat graag hul honde reg wil oplei of gedragsprobleme met hulle ervaar.
Vir meer inligting kontak Du Toit by 082 627 6201 of stuur 'n e-pos na info@happytailsdogtraining.co.za
Kyk 'n video hieronder:
Aleks, 'n swart Russiese terriër.
Kimba luister geduldig na die storie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'