OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se finansiële posisie, politieke stabiliteit en munisipale bestuur het die afgelope jaar drasties verbeter.
Dit was die kern van die boodskap wat Felix Lotter, Oudtshoorn se hoof finansiële beampte, en raadslid George Kersop Dinsdagaand by die Queens Hotel aan ongeveer 60 gaste oorgedra het.
Lotter en Kersop was die gassprekers tydens die Oudtshoorn Besigheidskamer se maandelikse netwerkaand.
Die aand is deur James King en Badenhorst Prokureurs geborg.
Tydens sy verwelkoming het Gideon Badenhorst, voorsitter van die besigheidskamer, gesê presies 'n jaar gelede was die nuwe burgemeester, Colan Sylvester, die gasspreker tydens die netwerkaand.
"Nou is dit 'n jaar later, en ek dink ek kan met sekerheid sê Oudtshoorn bevind homself nou in 'n beter situasie as verlede jaar hierdie tyd."
George Kersop, voorsitter van die burgemeesterskomitee van finansies, het gesê hulle vertrekpunt verlede jaar na die plaaslike verkiesing was een van wanorde en chaos.
"Dinge lyk tans baie beter danksy politieke stabiliteit en gesonde administrasie en finansiële bestuur in die munisipaliteit. Ons is nog ver van gesond af, maar die syfers wys ons is beslis op die regte pad na 'n skoon oudit toe," het hy gesê voordat hy Lotter aan die woord gestel het.
Selfbeheersing het ontbreek
Volgens Felix Lotter is die hoofoorsaak van die finansiële chaos waarin Oudtshoorn hom be-vind het, 'n totale afwesigheid van selfbeheersing onder die vorige bestuur.
"Daar is eenvoudig net geld uitgegee en die skuldlas het die dorp bankrot gemaak. Ons het afgeskop met Eskom-skuld van R54 miljoen en ander skuld van meer as R35 miljoen met geen dag tot dag kapitaalbedryfskoste nie en nul rand in die bank."
Wanbetalings het daartoe gelei dat munisipale ledegeld en ouditfooie en verskeie ander kostes nooit betaal is nie en dit het ook Wesbank en Avis genoop om meer as 50 voertuie terug te neem.
Verder was daar ook meer as 500 mense onregmatig aangestel en 'n gekookte begroting was onrealisties met 'n tekort van meer as R50 miljoen, het hy gesê.
Streng beheer
Volgens Lotter moes die totale prentjie in ag geneem word met die opstel van 'n langtermyn herstelplan wat reeds besig is om vrugte af te werp.
Die Eskom-skuld is van R54 miljoen tot slegs R4 miljoen verminder en sal binne die volgende twee maande afbetaal wees. Die munisipaliteit het ook daarin geslaag om die afgelope jaar 'n bankbalans van R50 miljoen op te bou.
"Ons voer uiters streng beheer uit oor uitgawes om seker te maak dat ons teikens vir die herstelplan bereikbaar is."
As deel van die herstelplan moes besin word oor die aantal personeellede en aantal voertuie wat noodsaaklik is vir diens-lewering.
Personeel is vanaf 1300 tot 800 verminder en die maandelikse huur van voertuie is vanaf R600 000 na R300 000 verminder.
Volgens Lotter is die ideaal om ten minste R450 miljoen in die bank te hê, maar om dit te bereik kan tussen vier en sewe jaar se goeie bestuur neem.
"Die verwagting van mense moet realisties wees. Behalwe vir die groot uitdagings wat verouderde infrastruktuur meebring word ons ook gereeld deur vandalisme gekniehalter, wat 'n groot finansiële las op inwoners plaas,"
Lotter het die gaste meegedeel dat politieke stabiliteit op die dorp en die aanstelling van kundige mense deurslaggewend is vir die herstelproses wat plaasvind.
Die personeel van James King Badenhorst wat die netwerkaand aangebied het is, van links: James King, Leon Delport, Friedelein Kleyn, Helene Badenhorst, Louis Oosthuizen en Gideon Badenhorst.
Op 'n vraag uit die gehoor oor die vervolging van diegene wat verantwoordelik was vir Oudtshoorn se finansiële ondergang, het Lotter die versekering gegee dat verskeie ondersoeke ten opsigte van kriminele klagtes aan die gang is.
"Hier kom gereeld ondersoekers wat inligting en verklarings neem. Ek kan julle verseker dat daar vervolgings kom. Dit neem net lank."
Lotter het ook op 'n vraag van die Oudtshoorn Courant oor die bepaling van eiendomsbelasting reageer. Lees sy uiteensetting in die berig hieronder.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'