OUDTSHOORN NUUS - Familie en inwoners van Oaklahomastraat, Rosebank, het Donderdagmiddag 'n kranslegging vir Petrus Konstabel (53) in Voortrekkerweg waar hy gesterf het, bygewoon. Dit is deur Leon Campher en Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) gereël.
Konstabel se liggaam is op 31 Desember 2024 langs die pad by Winston Linford Motors in Voortrekkerweg gevind.
Die omstandighede rondom sy dood is steeds duister.
Met navraag aan sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het hy bevestig dat 'n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen is en dat die saak deur Oudtshoorn-polisieondersoek word. 'n Nadoodse ondersoek is gedoen, maar daar word nog gewag op uitstaande dokumentasie wat deel vorm van die polisieondersoek.
Konstabel is Sondag 12 Januarie te ruste gelê.
Petrus was geliefd
In gesprek met familie en inwoners in Oaklahomastraat, waar Konstabel bekend en geliefd was, vertel hulle dat hy soos 'n pa en oom vir hulle was. Hulle wil dit ook regstel dat hy nie 'n hawelose was wat op straat gewoon het nie.
"Petrus was altyd skoon en netjies, maar die hartseer van sy omstandighede het hom telkemale gedwing om eerder op straat te slaap." Volgens hulle is hulle bitter ongelukkig oor wat met Konstabel gebeur het en oor die omstandighede wat direk daartoe gelei het.
"Ons was lief vir hom en het altyd ons deure vir hom oopgemaak, hoewel hy wel 'n huis gehad het waar hy telkens toegang geweier is deur die mense wat nou daar woon. Hy het sy hart baie by ons uitgepraat. Die ergste was dat hy selfs een aand buite sy huis by die hond moes slaap vertel Liezl Claassen wat hom goed geken en baie met hom gewerk en gesels het.
Volgens Claassens was hy nie haweloos, 'n dwelmgebruiker of drinker nie. "Hy was 'n asmalyer en het ook diabetes gehad."
"Hy het baie seer gehad waarmee hy moes saamleef; seer wat onnodig en eintlik wreed was. In ons straat was hy altyd welkom. Hier is ons almal soos familie. Hier staan ons bymekaar, sorg vir mekaar, lag en huil saam," vertel Claassen.
Gertruida Lukas, een van die buurvroue, vertel sy het 'n houthok agter haar huis opgeslaan vir Konstabel sodat hy 'n veilige hawe en 'n dak oor sy kop kon hê. "Dit terwyl hy wettig in sy oorlede ma se huis kon woon, maar hy was nie welkom daar nie."
Lukas vertel Petrus was 'n tuinier wat meestal by die weermagkamp gewerk het. "Hy het altyd baie gesels, stories vertel en was baie lief vir diere."
Die groep vroue is bitter hartseer oor die omstandighede waarin Konstabel gesterf het. Claassen noem dat hy wel sieklik was en onlangs in die hospitaal was vir sy toestand.
"Ons wil nie die Here se werk bevraagteken nie, maar hy kon in sy huis of in die hospitaal met respek gesterf het; nie op die manier waar hy in 'n situasie geplaas is waar hy ongeliefd gevoel het nie. Met die uitstap, wys die vroue na 'n enkele voetspoor in die sement. "Dit is Petrus se voetspoor wat hier lê. Dit en goeie herinneringe is nou al wat ons in Oaklahomastraat van hom oor het."
Konstabel laat vyf kinders, vier dogters, 'n seun en vier kleinkinders agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’