Update
OUDTSHOORN NUUS - "Ons skud vandag die swaar donker kleed van die impak van die lockdown van ons skouers af en kyk die toekoms vierkantig in die oë."
Dit was die woorde van Chris MacPherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn na afloop van die reusesukses van die Jerusalema-uitdaging op die dorp.
Bykans 1 000 of meer inwoners het Saterdagmiddag die gedeelte van Baron van Reedestraat tussen Voortrekkerweg en St. Johnstraat op die ritme van Jerusalema laat dreun.
Alhoewel daar nie 'n presiese getal bepaal kan word nie, vermoed die organiseerder, Ingrid Noble, dat daar meer mense hier deelgeneem het as die ongeveer 1 000 wat 'n aantal weke gelede op Plettenbergbaai bymekaargekom het. "Ek is verstom oor die reaksie, dit was 'n ongelooflike dag vol energie en positiwiteit," het sy gesê.
MacPherson, wat ook voor die Queen's Hotel sy Jerusalema-passies uitgevoer het, het gesê inwoners kan trots wees op hulself. "Ons wys vir Suid-Afrika wat mens kan vermag as almal in die dorp saamstaan en as 'n eenheid optree."
Hy het sy dank aan elke persoon wat tot die dag bygedra het, uitgespreek en bygevoeg dat hierdie die begin van ander inisiatiewe is wat na ander dele van die groter Oudtshoorn uitgebou kan word.
"Ek is trots om 'n Oudtshoorniet te wees," het hy benadruk.
Noble het Saterdag gesê sy is reeds besig om na nog 'n soortgelyke geleentheid te kyk. "Die mense praat van die Wikkel-Wikkel wat hulle nog wil doen. Ek weet nie wat dit is nie, maar as ons soveel belangstelling kan kry soos vandag, gaan dit ook groot wees."
Baron van Reedestraat tydens Saterdag se Jerusalema. Foto's: Hannes Visser
Oudthsoorn se burgemeester, Chris MacPherson (in die middel) het goed in pas gebly met raadslid Eva Fortuin agter hom.
Vorige artikel: Honderde by Jerusalema-uitdaging
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'