PRINS ALBERT NUUS - Een van Prins Albert se bekendste en oudste inwoners, Pat Marincowitz, het op 17 Maart sy 95ste verjaarsdag in die historiese NG Kerk en kerksaal Seekoegat, waarvan hy 'n lidmaat was, gevier.
Marincowitz, wat diep spore in die omgewing se landbougemeenskap getrap het, het die geleentheid vir twintig vriende aangebied. Die afgeleë kerkperseel is per grondpad sowat 65 km van Prins Albert geleë, in die rigting van Rietbron en noord van Klaarstroom. Die kerk is in 1907 ingewy en in 1983 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die gemeente, wat jare lank hoofsaaklik die boeregemeenskap gedien het, het aanvanklik honderd lidmate gehad. Vandag is daar nog net twintig oor, en ds. Chris Briers van die NG Kerk Prins Albert hou een keer elke drie maande ’n erediens daar. Toevallig het Marincowitz se verjaarsdag, op Sondag 17 Maart, saam met Seekoegat se erediensbeurt geval.
Die kerkgebou het 'n interessante geskiedenis.
Lydia Barrella, kurator van die Fransie Pienaar-museum in Prins Albert – wat ook die geleentheid bygewoon het – het by navraag gesê Seekoegat het ontstaan uit die Zwartberg NG gemeente wat in 1842 op die plaas Kweekvallei gestig is – ook die stigtingsdatum van die dorp Prins Albert.
Die historiese Seekoegat-kerkgebou.
“Die gemeente het oor ’n geweldige groot gebied gestrek. Boere moes ver ry met kar en perde om kerkdienste by te woon. Frederick Simon Oosthuizen, ’n welgestelde boer in die distrik, het vroeg in die 1900’s besluit om ’n kerkie vir die wyk, toe bekend as die Traka-wyk, op een van sy plase, Seekoegat, op eie koste te bou. Seekoegat het 'n bloeitydperk beleef nadat die pad in 1858 deur Meiringspoort oopgestel is en met die ontdekking van goud in 1891 in die omgewing het daar baie mense na die gebied gestroom.
"Daar was ’n hotel, kroeg, winkel, slaghuis en poskantoor op Seekoegat. Die kerk is in Februarie 1907 ingewy. In 1929 het hy die kerksaaltjie langsaan laat bou en in 1936 het hy die grond en geboue aan die NG gemeente Prins Albert geskenk.”
Volgens Barrella het die inhoud van die Seekoegat-kerk groot historiese waarde. “Met die inwyding van die kerkie is ’n huisorreltjie gebruik. Die huidige orrel, wat deur Cecil John Rhodes in ongeveer 1880 aan die Prins Albert-gemeente geskenk is, is so 75 jaar gelede na die kerkie gebring. Die eerste kanselkleed is in 1906 deur Annie Oosthuizen, oom Frikkie se dogter, geborduur en die huidige kanselkleed – ’n replika van die oue – deur Helena Marincowitz in 1968. Die nagmaalkelkies is in 1966 deur diaken C Pat Marincowitz geskenk.”
Marincowitz se plaas het destyds in die Seekoegat-wyk geval. Hy was die president van die Prins Albert-landbougenootskap van 1967 tot 1973, en die jaarlikse landbouskou hier het op sy inisiatief begin.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'