OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Oudtshoorn-tak van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM), onder wie talle voormalige onderwysers en onderwyseresse, het onlangs, 'n vreedsame plakkaatbetoging voor die Oudtshoorn Onderwyssentrum gehou.
Tydens die betoging is 'n memorandum aan die kringbestuurder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, Kelvin Ellis, oorhandig.
Die memorandum sal onder meer aangestuur word na die speaker van die parlement asook die hoof- uitvoerende beampte van die Staatspensioenfonds (GEPF).
Marlene Thompson, voorsitter van die Oudtshoorn-tak van die CSPRM, het in haar toespraak gesê die organisasie is vasbeslote om tot die einde toe te veg om die geld wat aan hulle verskuldig is, by die GEPF te bekom.
"Hulle hou steeds die geld wat ons toekom. President Cyril Ramaphosa het reeds lank gelede belowe dat benadeelde staatsdienspensioenarisse vergoed sal word, maar tot op hede het niks daarvan gekom nie," het sy gesê.
Volgens Thompson sloer die Gesamentlike Taakspan (JTT), wat opdrag ontvang het van die gesamentlike parlementêre komitees oor staatsdiensadministrasie en finansies, met die proses.
In die griefskrif eis die CSPRM dat 'n vaste bedrag van R500 000 aan vroulike voormalige staatsamptenare en R400 000 aan hul manlike eweknieë uitbetaal word, ongeag diensjare, rang of die rede waarom die betrokke persoon die staatsdiens verlaat het.
Volgens die CSPRM moet die enigste kriterium wees dat die begunstigde wat benadeel is, tussen 31 Mei 1961 en 2 September 1998 as staatsamptenaar in die Republiek van Suid-Afrika, Namibië of in die buiteland diens gedoen het.
Die organisasie voer aan dat dit tyd is dat geregtigheid geskied deur die implemente-ring van die pensioenregstellingsprogram.
Hoewel die pensioene uitbetaal is, het nie almal ontvang wat hulle toekom nie.
Volgens Thelma Bestbier, adjunkdirekteur van Consolidated Retirement Fund, is die lid uitbetaal of hul diensrekord is herstel indien die nodige dokumentasie ontvang is.
Indien die lid gekwalifiseer het en al die nodige dokumentasie ingedien en uit diens getree het, is daar 'n herberekening gedoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’