KLEIN KAROO NUUS - 'n Oudskoolhoof van Vlakteplaas Primêre Skool buite De Rust, Philip Muller (85), is verlede Vrydag na ‘n lang siekbed oorlede.
Muller, alombekend as “Meester Phillo”, was een van die stigterdiakens van die Weyers Memorial United Congregational Kerk, en was vanaf 1981 tot sy aftrede in 1993 hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool.
Hy het sy onderwysloopbaan van 37 jaar in 1956 op Grootkraal naby die Kango-grotte begin.
In ‘n onderhoud so twee jaar gelede vertel hy dat die onderwysers met fietse vanaf Oudtshoorn gery en vir die week in ’n hotel op Grootkraal tuisgegaan het.
"Ek onthou nog goed hoe dit gespook het in daai hotel," het hy destyds vertel.
Na drie maande op Grootkraal is hy vir ses maande na Avontuur in die Langkloof voordat hy in 1957 op Snyberg begin skoolhou het. Hier was hy vir nege jaar voordat hy in 1966 Vlakteplaas toe gegaan het.
Hy vertel ook dat hulle in daardie jare nie net skoolgehou het nie. "Ons was die sielkundiges. dokters, beraders en predikante. Die mense het met al wat 'n probleem is na ons gekom."
Sy eggenote, Denise, het hom laat verlede jaar ontval.
Hy laat drie seuns met hul eggenotes, twee broers, ‘n suster, vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders agter en word vanoggend (Donderdag) vanuit die Weyers Memorial United Congregational Kerk begrawe.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'