Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n 64-jarige oudpolisielid van Oudtshoorn wat tereg staan op 200 aanklagte van kinderpornografie is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van 'n pornografie deskundige van Pretoria tot volgende jaar uitgestel.
Dale Mackintosh word daarvan aangekla dat hy in Desember 2018 in besit was van ‘n film of publikasie wat uitbeeldings, beskrywings of tonele van kinderpornografie bevat.
Hy is in 2019 in hegtenis geneem nadat sy gewese vrou glo sy tabletrekenaar na die polisie geneem het nadat sy die foto’s op die rekenaar ontdek het
Hy pleit onskuldig op al die klagtes.
Volgens sy pleitverduideliking erken hy dat hy die foto’s op sy rekenaar afgelaai het maar nie bewus was dat die kinders op die foto’s minderjarig is nie.
Die staat het sy saak Vrydag na die kruisondervraging van die deskundige, Mmaletjema Poto, gesluit.
Die saak is daarna as gevolg van te min hoftyd en ‘n vol hofprogram vir die res van die jaar, deur streeklanddros Daniel Boks tot 27 Januarie 2021 uitgestel.
Adv. Michelle Weyers verskyn vir die staat en Gideon Badenhorst vir die beskuldigde.
Vorige artikel: Man voor vir kinderpornografie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'