OUDTSHOORN NUUS - Twee oudleerders van Hoërskool Oudtshoorn, Jac Kriek (klas van 1985) en Hewan McCann (klas van 1984) het leierskaprolle opgeneem by die eksklusiewe organisasie, Mensa.
Beide dien nou as voorsitters van die Wes-Kaap Mensa-afdeling. Kriek is reeds jare voorsitter van Mensa Kaapstad, terwyl McCann in Julie 2024 as voorsitter van die Mensa Wynlande-tak verkies is.
Mensa, die wêreld se oudste en grootste hoë-IK-gemeenskap, bied 'n platform vir individue met uitsonderlike hoë intelligensie om betrokke te raak by die stimulering, besprekings en aktiwiteite wat intellektuele groei en gemeenskapbetrokkenheid bevorder.
Beide McCann en Kriek het goeie herinneringe aan hul grootword jare in Oudtshoorn. "Oudtshoorn het my gevorm tot wie ek vandag is en die ondersteuning vanaf die Oudtshoorn-gemeenskap, asook opvoeders het 'n groot rol in my lewe gespeel.
"McCann deel soortgelyke sentimente en noem dat sy gesin steeds in Oudtshoorn woon, wat besoeke 'n belangrike deel van sy lewe maak. "Ek kuier so gereeld as wat ek kan, my wortels is in Oudtshoorn."
Sedert hulle weer deur Mensa kontak gemaak het, het beide idees bespreek om die onderskeie takke uit te brei en te versterk. "Ons is opgewonde om saam te werk en idees uit te ruil," verduidelik Kriek.
"Ons doel is om Mensa in die Wes-Kaap groter, sterker en lekkerder vir alle lede te maak."
Met die twee Oudtshoorniete aan die stuur, is die toekoms van Mensa Wes-Kaap belowend. Hul gedeelde visie is om intellektuele betrokkenheid te bevorder en 'n lewendige gemeenskap te skep. Terwyl die twee alma maters hierdie reis saam aanpak, nooi hulle medelede om saam met hulle die vreugde van die leer en strewe na kennis binne die Mensa-gemeenskap te vier.
Meer oor Mensa
Mensa is in 1946 gestig en is toegewy aan die bevordering van individue wat in die top 2% val van die algemene bevolking val as dit kom by erkende intelligensietoetse. Die organisasie moedig intellektuele uitruiling, sosiale interaksie en persoonlike groei aan en bied 'n unieke platform vir sy lede om te floreer.
Mensa Suid-Afrika is op 1 Oktober 1988 amptelik deur die internasionale gemeenskap erken, ten spyte daarvan dat dit sedert die laat 1970's in Suid-Afrika bestaan het. Vandag het Mensa Suid-Afrika meer as 1 000 lede waarvan 200 aan die Mensa Wynland-tak behoort en 120 aan Mensa Kaapstad.
Daar is vyf Mensa-takke in Suid-Afrika: Kaapstad, Wynlande, Johannesburg, Pretoria en KwaZulu-Natal. Suid-Afrika is ook die enigste land in Afrika met 'n erkende Mensa-genootskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’