OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep oudleerders van De Jager Primêr op Buffelsdrift het onlangs 'n reünie by die skool gehou.
Tydens die verrigtinge is daar veral klem gelê op die waarde wat die onderwysers in hul skoolloopbaan tot hul lewe gevoeg het.
Een van die sprekers het gesê dat respek jou ver in die lewe bring en dat hulle dankbaar is vir al die pakslae met doringlatte wat hulle as leerders soms moes deurmaak.
"Netheid en sport is ook by ons ingedril en dis juis hierdie waardes wat ons ook vandag by ons kinders en in die samelewing probeer toepas. Ons is opreg bly oor die goeie waardes wat hulle ons geleer het en die manier hoe hulle in ons belê het. Van die oudonderwysers is nie meer met ons nie, maar ons sal hulle altyd onthou. Buffelsdriffers is meer soos 'n familie as 'n gemeenskap, en dis wat hierdie herinneringe so spesiaal maak."
Shirley Wagenaar van Dassieweg Voorskool was die gasspreker van die dag en het, tesame met oudskoolhoof, Herold Rhodes, prettige staaltjies uit die verlede vertel wat die gehoor se maagspiere behoorlik gerek het.
De Jager Primêr is vanjaar 59 jaar oud met Leonie Rabie wat tans die skoolhoof is. Volgens een van die oudleerders, Marilyn Blaauw, was die dag 'n groot sukses en sal al die geld wat ingesamel is aan die skool geskenk word.
Blaauw het veral oudleerders soos Adriaan Ooshuizen, Godfrey Veldman en Joseph Oosthuizen bedank vir moeite en toewyding om die reünie 'n realiteit te maak.
Leonie Rabie aan die woord.
De Jager Primêr op Buffelsdrift soos die skool tans lyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’