OUDTSHOORN NUUS - Oudled Taskforce, 'n organisasie in Oudtshoorn wat onder meer daarna streef om klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's) te ondersteun en op te hef, tesame met die jeug en gemeenskap, het Donderdag 7 September hul eerste amptelike netwerkaand in die dorp gehou.
Die tema van die aand, wat by die SEDA-kantore (Small Enterprise Development Agency) in die Seppie Greeff-gebou aangebied is, het gehandel oor die ontsluiting van geleenthede vir KMMO's, sogenaamde SMME's (Small, Medium and Micro enterprises) ten bate van ekonomiese groei en werkskepping.
Johnathan Vaas van Oudled het gesê die organisasie wil alle KMMO's op die dorp ophef en ondersteun waar moontlik, maak nie saak waar hulle hulself in die Groter Oudtshoorn bevind nie.
"In die toekoms gaan ons verdere aande by ons lede hou, dis soos 'n bemarkingstrategie, ons wil mekaar se besighede blootstelling gee," het hy gesê.
Vaas het gesê om te netwerk en interaksie tussen besigheidseienaars is baie belangrik.
Jacobus Martins, Oudled-voorsitter, het vertel die organisasie werk ook saam met die South African Local Government Association (Salga), Tuinroete-distriksmunisipaliteit en Oudtshoorn-munisipaliteit.
Hy het gesê dat hul grootste missie is om hul lede te ondersteun en op te hef. "Ons wil dit ook vir die gemeenskap doen."
Die organisasie sal ook, volgens Martins, weeklikse programme op EDENfm aanbied waar hulle onder andere oor hul suksesse en die pad vorentoe sal gesels.
Die bestuur van Oudled bestaan uit Howard Barends (tesourier) Jonathan Vaas, Arline Avontuur (sekretaris), Frederick Moos (jeugkoördineerder), Jacobus Martins (voorsitter) en Anthony Coericius.
Outled Taskforce se bestuur saam met sakemanne en -vroue van die dorp by die netwerkaand in Oudtshoorn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’