OUDTSHOORN NUUS - Oudled Taskforce het met hul laaste netwerkaand van die jaar, Donderdag 9 November, bewys dat hulle by die dag groei met talle nuwe lede teenwoordig, en het met hierdie geleentheid hul toewyding aan hul lede en die gemeenskap beklemtoon.
Boonop was die hoof van SEDA (Small Enterprise Development Agency) ook byderhand om sy organisasie se toewyding aan klein besighede te beklemtoon, en toekomstige samewerking met Oudled, hul lede en ander klein besighede in die kollig te plaas.
FOTOGALERY: Oudled Taskforce se laaste netwerkaand van die jaar
Oudled is 'n organisasie in Oudtshoorn wat onder meer daarna streef om klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's) te ondersteun en op te hef, tesame met die jeug en die gemeenskap.
Alex Qunta, Wes-Kaapse bestuurder van SEDA, het tydens die geleentheid gesê dat SEDA toegewy is aan die bevordering van klein besighede in Oudtshoorn.
"SEDA het al 'n paar besighede hier ondersteun, en ons sien uit daarna om nog meer besighede te ondersteun. Ons is dalk nie baie sigbaar in Oudtshoorn en die platteland nie, maar ons sal poog om in die toekoms meer te doen. Ons wil verhoudings bou, en daar is baie om te doen."
Llewellyn Coetzee van die Oudtshoorn-munisipaliteit het gesê dat 'n omgewing geskep moet word waar klein besighede kan floreer.
"Ons moet 'n omgewing skep waar hierdie besighede 'n geleentheid kan kry om te groei. Ons moet mekaar ondersteun. Die oplossing vir Oudtshoorn se werkloosheidsprobleem is nie die munisipaliteit nie, maar klein besighede wat werksgeleenthede skep," het hy gesê.
Die aand is afgesluit met 'n netwerkgeleentheid waar die kleinbesigheidseienaars met mekaar kon gesels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’