"Ons is verneder," het 'n omgekrapte Sharon Koelman gesê.
Sy en haar twee susters, Veronica en Carol, asook 'n broer Carlo, was onder die wat destyds uit Vaaldraai gesit is.
"Anders moet ons daai mense wat nou in ons huis bly gaan uitsit," het sy gesê.
Ook 66-jarige Betty Jaxa wat in Albertstraat gewoon het, was omgekrap. "Ek het al die moeite gedoen om van my huis te stap en nou stuur hulle my terug. Ek is bitter ongelukkig."
Hulle was in besit van 'n Facebook-uitdruk waarin 'n oudburgemeester van die dorp en tans 'n amptenaar in die Departement Gemeenskapsdienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit, James Swigelaar, oudinwoners van Noord-Einde, Wesbank, Klippies Eiland, Vaaldraai en Suikerbult nooi om hul eise te kom indien. Hy is ook voorsitter van die Noord-Einde Grondeisekomitee.
"Hulle kom nou vir ons sê ons moet 'n komitee saamstel," sê Veronica Hurling. "Hoekom het hulle dit nie lankal gesê nie."
"En toe ons James na die uitnodiging vra toe pak hy die skuld op iemand anders en krap Vaaldraai dood."
Thembise Maxegwana, die projekbeampte van die Departement Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, wat saam met 'n span amptenare van die department die eisvorms ingevul het, het gesê Vaaldraai se mense word nie nou geakkommodeer nie omdat hulle nog nie 'n eis soos die ander gebiede ingedien het nie.
"Ons handel nou Noord-Einde, Wesbank, Klippies Eiland en Suikerbult se eise af."
Die oud-Vaaldraaiers moet volgens haar, wag tot Junie.
"President Zuma sal eersdaags 'n amptelike aankondiging maak. Hulle sal hul kans kry," het sy gesê en bygevoeg dat dit belangrik is om 'n komitee saam te stel wat die eisers kan verifieer.

Ongelukkige oud-Vaaldraaiers, Sharon Koelman, Betty Jaxa, Carlo Hurling, Veronica Hurling en Carol Hurling-Booysen voor die Bongolethu-bilibioteek waar hulle onverrigter sake moes omdraai. Foto: Garnett Wicomb.