Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - Vandale het verlede Vrydag deur die loop van die nag die ou Standard Bank-gebou in Kerkstraat se voordeur oopgebreek en die perseel geplunder.
Volgens Renier Heunis, eiendomsagent van Pam Golding, is dié onwettige betreding en vandalisme al twee weke gelede by die polisie aangemeld.
"Die gebou staan al min of meer ses maande leeg omdat die nuwe Standard Bank tans in Hoogstraat geleë is. Omdat die gebou in die mark is, wou ek die gebou aan voornemende kopers wys. Dis toe dat ons ontdek dat die voordeur se slot afgebreek is, en oop staan. Dit is ook duidelik dat mense hier woon, slaap en selfs vuurmaak. Hoekom hulle die plek so afbreek, weet nugter alleen.
"Op die oomblik kan ons nie sekuriteit bekostig nie en maak staat op patrollies van die polisie wat reeds van die situasie bewus is. Die eienaar van die gebou is in die buiteland en ons het al sonder sukses kwotasies aan hom gestuur om wagte aan te stel, want ons kan dit nie doen nie."
VORIGE ARTIKEL: OU STANDARD BANK-GEBOU GEPLUNDER
Volgens Heunis het die vandale die vorige keer deur die dak toegang tot die gebou gekry. Dit is egter nou die eerste keer dat hulle die voordeur se slotte afgebreek het. Buitekamers agter die gebou is ook 'n geruime tyd gelede oopgebreek vir slaapplek. Stukke van die pragtige trapreling op die stoep van die gebou sowel as stukke van die yster geute teen die muur is ook reeds afgebreek en weggedra.
Fotogalery: Ou Standard Bank-gebou in Kerkstraat geplunder
Die vandale het selfs vuur binne in die gebou gemaak.
Marianne Spies, voorsitter van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE), het die voorval betreur en gesê dat historiese sandsteengeboue soos die ou Standard Bank-gebou deur sy eie mense opgepas moet word eerder as wat dit blatant verniel word.
"Dit kan mos nie wees dat 'n gebou met 'n trotse geskiedenis wat uit 1904 dateer met hierdie tipe disrespek behandel word nie. Ek is seker dat die oorgrote meerderheid van Oudtshoorn se inwoners ons sentimente deel. Ons stadsvaders sal daadwerklik moet kyk hoe om ons erfenisse te bewaar vir die generasies wat kom voor ons dit gaan verloor. Die eerste punt van aksie is om toilette te voorsien vir die mense wat weekliks in lang rye by die poskantoor langs die gebou staan. Sulke klein gebare van omgee het tog 'n oorkoepelende effek tot 'n verenigde denkwyse van bewaring en respek vir gemeenskaplike erfenisse," het Spies benadruk.
Sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het op 'n navraag aangedui dat geen kriminele klagte geopen is nie. Michaels het bevestig dat die eienaars van die gebou nie in Oudtshoorn is nie, maar dat hulle intussen wel sekerheidswagte aangestel het.
Elektrisiteitsdrade is uitgeruk. Foto's verskaf
Dis is duidelik dat mense onwettig in die gebou woon.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'