Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Vandale het deur die loop van die nag die ou Standard Bank-gebou in Kerkstraat se voordeur oopgebreek en die perseel geplunder.
Volgens Renier Heunis, eiendomsagent van Pam Golding, is dié onwettige betreding en vandalisme al twee weke gelede by die polisie aangemeld.
"Die gebou staan min of meer ses maande al leeg omdat die nuwe Standard Bank tans in Hoogstraat geleë is. Omdat die gebou in die mark is, wou ek vanoggend die gebou voornemende kopers wys. Dis toe dat ons ontdek dat die voordeur se slot afgebreek is, en oop staan.
"Dit is ook duidelik dat mense hier woon, slaap en selfs vuurmaak. Hoekom hulle die plek so afbreek, weet nugter alleen. Op die oomblik kan ons nie sekuriteit bekostig nie en maak staat op patrollies van die polisie wat reeds van die situasie bewus is. Die eienaar van die gebou is in die buiteland en ons het al sonder sukses kwotasies aan hom gestuur om wagte aan te stel, want ons kan dit nie doen nie. "
Fotogalery: Ou Standard Bank-gebou in Kerkstraat geplunder
Volgens Heunis het die vandale die vorige kere deur die dak toegang tot die gebou gekry. Dit is egter nou die eerste keer dat hulle die voordeur se slotte afgebreek het.
Dis duidelik dat mense in die gebou woon.
Buitekamers agter die gebou is ook geruime tyd gelede oopgebreek vir slaapplek. Stukke van die pragtige trapreling op die stoep van die gebou sowel as stukke van die yster geute teen die muur is ook reeds afgebreek en weggedra.
’n Navraag is aan die Oudtshoorn-polisie gestuur.
Elektrisiteitsdrade is uitgeruk. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'