Só verduidelik die 28-jarige Tertius Erasmus sy heldedaad. Erasmus het gehelp om 'n man vas te trek toe dié probeer het om 'n handsak te steel. Erasmus verduidelik dat hy in Baron van Reedestraat was toe hy iemand hoor gil.
"Die man het het op my afgehardloop. Ek het na hom gegryp, maar hy het hom losgeruk en deur die Spur-arkade na Checkers gehardloop. Ek en 'n sekerheidswag het hom agterna gesit." Hulle het die man gou ingehaal en grond toe gebring.
Erasmus vertel dat die man hulle gedreig het en gemaak het asof hy 'n mes uit sy broeksak wou pluk. Toe hulle meer hardhandig te werk gaan, het die man egter te kenne gegee dat hy nie gewapen is nie.
"Ek het glad nie daaroor gedink nie," het Erasmus verduidelik. "Dalk het ek so opgetree omdat ek ook graag sou sien dat iemand my in dieselfde situasie moet help." 'n klagte van diefstal is geopen.
Die vermoede bestaan dat die man nie alleen gewerk het om die handsak te probeer steel nie en dat hy ook vorige veroordelings het.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van Oudts-hoorn-polisie, het gesê dat 'n klag van diefstal geopen is en dat polisie die saak ondersoek.
Erasmus, wat van Aliwal-Noord afkomstig is, vertel dat hy by twee vorige geleenthede die slagoffer van roof was.
Hy woon die afgelope drie jaar in Oudtshoorn en werk by Cango Power Trade.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Die motorwag hou die dief op die grond. Foto: Jo-Marie de Kock
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'