Update
OUDTSHOORN NUUS - Heinrich Roman (18), is Sondagaand in Johansenstraat doodgesteek.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het die voorval om 20:20 plaasgevind.
"Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die 18-jarige oorledene met een steekwond aan sy bors gekry. Hy is op die toneel deur ambulanspersoneel dood verklaar."
Micheals sê ‘n 26 jarige-verdagte is op aanklag van moord gearresteer.
Roslyn Witbooi (25), sy vriendin van die afgelope vier jaar en ma van sy eenjarige dogtertjie, Caylin, het hulle saam in Johansenstraat gebly.
"Daar was vroeër Sondagaand 'n bakleiery voor die huis. Hier het mense opgedaag wat gesê het hy skuld hulle nog R50 vir die okkapyp wat hy by hulle gekoop het. Heinie het gesê hy sal vir hulle die geld gee. Ek het later in die huis gaan lê en televisie gekyk toe iemand my kom roep en sê hy lê hier langs die huis."
Volgens Witbooi het hy nog asem gehaal toe sy by hom kom.
"Ek het hom omgedraai en die bloed op sy bors gesien. Ek het vir hom gesê sy dogtertjie is ook hier. Hy het begin huil en is kort daarna dood. Ek het nie geweet hulle het weer baklei nie."
Roman se pa, Clinton Jacobs, sê hy gaan sy seun baie mis.
"Ons was meer soos broers. Ons het soms koppe gestamp, maar hy was 'n goeie seun."
Hy word Saterdag uit sy ma se huis in Du Toitstraat begrawe. Die finale reëlings was teen Dinsdag nog nie beskikbaar nie.
Heinrich Roman se pa, Clayton Jacobs, sy vriendin, Roslyn Witbooi en sy dogtertjie, Haylen. Foto: Liezl van Niekerk
Vorige artikel: Jong man doodgesteek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'