Landdros Lorraine Samuels het gesê dat sy dit in ag moet neem of hy 'n gevaar vir die publiek is, of hy sy verhoor sal staan, of hy met die getuies gaan inmeng en of hy ander misdade gaan pleeg sou sy hom borgtog gee.
Sy het egter gesê dat Gao 'n alternatiewe adres van 'n familielid gegee het, maar die ondersoek beampte, ao. Wessels Bower, kon nie die adres bevestig nie. Sy het ook gesê dat hy met die getuies kon inmeng as hy borgtog sou kry.
In die hof is ook genoem dat die twee mans, wat as staatsgetuies gebruik sal word, 'n SMS-boodskap na 'n familielid van Gao gestuur het waarin hulle gesê het dat indien hulle betaal word, hulle nie teen Gao sal getuig nie.
Die verhoor het oor ongeveer drie weke verloop waartydens Bower getuig het dat Julia Bagley, die eienaar van Bagley's, dreigemente vanuit die tronk ontvang het. Hy het ook getuig van 'n voertuig wat moontlik haar huis dopgehou het.
Riekie Qung Un, 'n familielid van Gao, het ook getuig. Hy het gesê dat Gao vir Gung Un se swaer, 'n man wat net as mnr. Lin bekend is, gewerk het en dat hy R6 000 'n maand by hom verdien het.
Volgens hom het Gao die onderhandelinge tussen Lin en Bagley rakende die koop van Bagley's hanteer. Qung Un het ook gesê dat daar 'n verbale ooreenkoms tussen Lin en Gao was en dat Goa 10% van Bagley's sou kry.
Qung Un sou Gao se borgtog betaal het en was bereid om 'n bedrag van R30 000 neer te sit vir die borgtog.
Gao is op 22 September in hegtenis geneem op 'n klag van sameswering om moord te pleeg.
Hy het na bewering twee mans van George af laat kom om Julia Bagley, eienaar van Bagley's te vermoor.
Bower het ook gesê dat Gao 'n foto van die eienaar van sy selfoon af na hulle selfoon gestuur het en dat hy het hulle gaan wys het waar sy woon.
Gao het die twee mans R10 000 aangebied om die eienaar dood te maak. Volgens hom is die polisie van die voorval in kennis gestel, waarna die twee mans beëdigde verklarings afgelê het.
Hulle het ook die huis waar Bagley woon aan die polisie uitgewys. Die mans het ook die polisie gewys waar die beskuldigde woon.
Die nagklub is intussen gesluit omdat die klub sonder 'n dranklisensie bedryf word.
Samuels het die saak tot 20 November uitgestel.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Guashun Gao, die Chinese burger
wat daarvan beskuldig word dat hy
die eienaar van Bagley's wou vermoor,
is Maandag borgtog geweier.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'