So het die bekende sakeman Bernard Herman, Woensdag voor sy onderneming in Hoogstraat gesê toe hy gevra is vir 'n mening oor Oudts-hoorn se nuwe parkeerstelsel waarvolgens motoriste nou moet betaal vir parkering. Hy het die oop parkeerplekke voor sy winkel gewys en verduidelik dat sy kliënte vir jare sukkel om parkeerplek te kry aangesien werknemers van kettingwinkels en banke die parkeerplekke gebruik het.
Drie ander sakemanne in Hoogstraat en St Johnstraat het met hom saamgestem.
David Harris en Clifford Miller het ook voor hulle onderneming na die beskikbare parkeerplekke gewys en gesê dat daar nie meer leeglêers rondhang wat mense pla en die sypaadjies as toilette gebruik nie.
Miller het gesê hy voel egter dat die beamptes 'n grasietyd van 'n paar minute moet toelaat wat mense sal toelaat om iemand net vining af te laai of dalk 'n pakkie af te gee.
Volgens Harris het een van die parkeerbeamp-tes aangedui dat hulle mense nie geld vra as die persoon aandui dat hy net vinnig iets moet afgee of oplaai nie.
Nie almal stem egter met hulle saam nie.
Een sakeman, en van sy personeellede het gekla dat die stelsel onbillik is omdat mense moet betaal al hou hulle net vir 'n paar minute stil. Hy het gesê dat dit ontwrigtend en moeilik is vir ou mense, maar het nie gereageer toe hy daarop gewys is dat daar nou meer parkeerplekke voor sy onderneming beskikbaar is nie.
Die Oudtshoorn Courant het Woensdag met tien motoriste en tien van die parkeerbeamptes gesels en hulle indrukke oor die stelsel gevra. Van die tien motoriste het twee nie 'n probleem met die stelsel nie, maar hulle het vrae gehad rondom die wettigheid daarvan en die beslommernis om kleingeld byderhand te hou. Ses het gesê die stelsel is 'n groot verbetering.
"Ek kan nie glo ek het so maklik parkeerplek reg voor die bank gekry nie" en "Hier is niemand wat op my deur kom lê en geld vra nie," was van die reaksies.
Twee motoriste het egter heftig gereageer. Een het gesê die sisteem stink, want sy het nie tyd om gepla te word vir geld nie en die ander een het gesê dis net nog 'n manier van die munisipaliteit om geld te maak.
Die parkeerbeamptes het gesê dat mense Dins-dag baie ongeskik met hulle was en dat baie geweier het om te betaal. Dit blyk egter dat motoriste teen Woensdag meer geneë was om te betaal. Een probleem wat volgens een van die beamptes opduik is dat motoriste nou op laaisones en parkering wat vir motorfietse en ge-stremdes gereserveer is parkeer. Die parkeerbeamptes roteer deur die dag na verskillende parkeerplekke.
Volgens 'n verklaring wat vanaf die munisipaliteit ontvang is, is klagtes van aanranding en crimen injuria onderskeidelik teen twee mense gemaak na voorvalle Dinsdag waartydens 'n man 'n vroulike beampte aangerand het en 'n tweede beampte deur 'n man geskel en beledig is.
Verskeie inwoners het vrae ten opsigte van die goedkeuring van die stelsel en die proses waarvolgens 'n maatskappy aangestel is. Daar was ook vrae rondom publieke deelname voordat die stelsel ingestel is. In reaksie hierop het die waarnemende munisipale bestuurder gesê dat die stelsel op grond van die begroting ingestel is. Oor publieke deelname wys hy daarop dat die munisipaliteit geen besware of navrae ontvang het nadat die advertensies ten opsigte van die nuwe stelsel reeds in Augustus duidelik in koerante en advertensieblaaie geplaas is nie.
Uit gesprekke wat met motoriste, beamptes en sakemense gevoer is blyk dit dat die stelsel nie sonder haakplekke is nie, maar dat die afwesigheid aan leeglêers en beskikbaarheid van parkeerplekke baie gunstig ontvang word. Lesers word genooi om hulle ervarings, voorstelle en moontlike frustrasies aan die Oudtshoorn Courant te stuur.
Intussen doen die munisipaliteit 'n beroep op motoriste om die inisiatief te ondersteun.
Klik hier vir 'n verwante artikel.
Clifford Miller by twee beamptes wat naby sy winkel diens doen.
Bernard Herman voel dat die nuwe parkeerstelsel 'n uitstekende inisiatief is.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'