Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - APD (Association for People with Disabilities) is reeds 50 jaar in diens van persone met gestremdhede.
Dié organisasie lewer 'n reusebydrae om persone met gestremdhede te help om in die samelewing aan te pas en nuwe vaardighede te leer sodat hulle meer onafhanklik kan wees.
Hulle is ook deuren-tyd betrokke by die bewusmaking van die behoeftes van persone met gestremdhede en om die publiek se persepsie te verander.
APD Oudtshoorn het 'n werkswinkel in Oudtshoorn sowel as in Dysselsdorp waar hulle met volwassenes werk en 'n kleuterskool in Bongolethu waar hulle spesifiek met kleuters werk.
Le-Ana van der Merwe, APD se provinsiale direkteur, het Vrydag tydens APD se 50ste verjaarsdag vertel dat sy sewe en 'n half jaar as maatskaplike werker deel van APD Oudtshoorn was.
"Ons is vandag hier om fees te vier. Dit is ons goue verjaarsdag en ek kan met groot trots sê dat APD regtig my wildste verwagtinge oortref het."
Volgens haar is die Oudtshoorn-tak deur Ida Myburg begin na sy die behoefte raakgesien het om persone met gestremdhede te bemagtig. Sy was ook die eerste maatskaplike werker van APD Oudtshoorn en was 21 jaar deel van die span.
Die personeel van APD-Oudtshoorn.
Volgens Van der Merwe was die ontwikkeling van APD Oudtshoorn 'n lang pad tot waar hulle vandag die twee werkswinkels en die dagsorgsentrum het.
"Ons kan met trots ook sê dat die Outeniqua-rostoelwedren (OCC) by ons begin het. Ons het besluit om die persone in rolstoele vanuit Oudtshoorn, oor die Outeniquapas tot by EDENfm se kantore in George te laat ry. Ons het die oggend 08:00 begin en langs die pad oornag. Net toe ons oor die pas is, het 'n vrou langs ons gestop en my gevra wat ons doen.
Ek het vir haar gesê: "Aren't you excited about the abilities of people with disabilities?'"
Volgens haar het die vrou net daar besluit om van dit 'n instelling te maak en dit is hoe die OCC begin het.
Die vieringe was vrolik en die gaste is deur Paul Amas vermaak.
Die sentrum se dansgroepie het ook ter ere van 16 Days of Activism 'n dansie uitgevoer.
APD Oudtshoorn se 50ste verjaardagkoek.
Vorige artikel: ADP dien gestremdes reeds 50 jaar
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'