LADISMITH NUUS - Meer as tweehonderd opvoeders in die Eden Sentraal-Karoo onderwysdistrik, spesifiek Kring 1, het verlede week by Ladismith Sekondêr, erkenning ontvang vir hul toegewydheid en gehalte-onderrig wat hulle aan leerders lewer.
Die direkteur van onderwys in hierdie streek, Jewel Jonkers het aan hierdie onderwysers gesê dit is opvoeders soos hulle wat 'n hele nuwe wêreld vir die leerders oopsluit. Jonkers het verder gesê dat opvoeders dikwels die een persoon is in wie baie kinders hul grootste vertroue plaas en ook hul diepste geheime deel.
"Dankie dat julle bereid is om daardie rol te vervul."
Volgens Jonkers het hierdie onderwysdistrik in 2023 die tweede beste matriekuitslae in die Wes-Kaap behaal het.
"Ons kan nog beter doen, niks verhoed ons om die beste in Suid-Afrika te word nie."
Hy het dit ook duidelik gemaak dat hierdie geleentheid waar die distrikskantoor erkenning en waardering aan opvoeders gaan toon, 'n jaarlikse instelling kan word.
Die kringbestuurder van Kring 1, Mias du Plessis, het elke opvoeder bedank vir hul onbaatsugtige diens wat hulle daagliks in die klas en buite die klas aan leerders lewer.
Opvoeders het dit duidelik laat blyk dat hulle hierdie erkenning van hul taak binne gemeenskappe waardeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’