CALITZDORP NUUS – Wat eers 'n verleentheid vir die gemeenskap en munisipaliteit van Calitzdorp was, is binnekort 'n trotse bate in die Bergsig-woonbuurt.
'n Onooglike en vervalle gebou word tans met finansiering van die provinsiale departement van sport en kultuursake herstel om eersdaags as biblioteek ingewy te word.
Inwoners het Murushda van Heerden, senior bestuurder: biblioteke wat die projek gedryf het, geloof vir haar deursettingsvermoë met die projek.
Jacob Willemse, 'n gemeenskapsleier wat hom beywer het vir die herstel van die biblioteek het gesê: "Dis netjies en ek doen 'n beroep op die gemeenskap om dit op te pas. Lees neem jou na wêrelde waar jy nooit sal kan reis nie."
Volgens Morné Hoogbaard, waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland, het die munisipaliteit reeds in 2018 'n versoek aan die provinsiale regering gerig vir die opknapping en heropening van die biblioteek.
"Die gemeenskap van Bergsig vra al meer as 15 jaar daarvoor en in 2019 het die departement van sport en kultuursake 'n bedrag van R650 000 beskikbaar gestel en addisionele geld in 2020 ook bewillig."
Volgens Hoogbaard kon opknappingswerk as gevolg van die inperkingsmaatreëls eers vanjaar in Mei 'n aanvang neem en daar word voorsien dat die biblioteek in November sal open.
Sy boodskap aan die gemeenskap is: "Biblioteke is die hartklop van die gemeenskap en moet bewaar word vir ons kinders en hulle kinders en die munisipaliteit vra dat die gemeenskap mooi na hulle nuwe biblioteek moet kyk."
Die vervalle gebou voordat daar met opknappingswerk begin is.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'