OUDTSHOORN NUUS - Helping Hands Community Projects Oudtshoorn (HHCPO) se span vrywilligers het vandeesweek ingespring om die skoolterrein van die Bridgton-crèche skoon te maak.
Die groep vroue en die projekbestuurder, Emile Cupido, het hulle min aan die hitte gesteur en Dinsdagoggend, met die kwik wat toe al tot in die vroeë dertigs geklim het, die onkruid entoesiasties met grawe, vurke en tuinharke getakel.
Die helpers is almal vrywilligers wat op weldoeners en donateurs staatmaak vir kontantskenkings om darem 'n dagloon te verdien. Dié geld word in HHCPO se bankrekening inbetaal en word slegs gebruik om vrywilligers te betaal.
Vir die skoonmaakprojek by Bridgton-crèche leen HHCPO tuingereedskap by wyk 7, omdat hulle nog nie gereedskap van hul eie het nie. Emile sê tot tyd en wyl HHCPO amptelik as 'n Artikel 8-entiteit geregistreer is, moet hulle maar bakhand staan en bedel.
"As daar besighede of inwoners is wat dalk enige tipe tuintoerusting kan skenk, sal dit ons taak ontsettend vergemaklik. Oud of nuut, enige tipe tuingereedskap is welkom."
HHCPO is sedert vroeg Januarie besig om oral parke en oop terreine by kerke, skole en crèches skoon te maak en op te ruim.
Operasie skoonmaak in volle gang by Bridgton-crèche.
Emile sê hulle het ook twee huise geverf en sal graag meer skenkings van verf, kwasse en rollers wil kry. "Ons fokus is op minderbevoorregte huishoudings en skole en ons benodig verftoerusting dringend. As besighede ons hand wil sterk, sal dit 'n groot verskil in mense wat sukkel se lewens maak.
"Ons sal ook help met verf- en skoonmaakaksies by gevestigde skole op voorwaarde dat hulle die vrywillige werkers se dagloon sal betaal. Nie net is dit voordelig vir die skool en die onmiddellike omgewing nie, maar dit help ook om vir werkloses 'n leefbare inkomste te genereer."
Hul volgende groot stap is om groentetuine by minderbevoorregte skole te begin aanlê. "Ons wil by Bridgton-crèche begin en vra die landbousektor en die departement van sosiale ontwikkeling om ook betrokke te raak by dié projek deur die skenking van saad en watertenks. Deur genoeg groente te kweek kan 'n skool in sy eie behoeftes voorsien en ook oorskot groente verkoop vir 'n ekstra inkomste. Daardie inkomste kan dan weer aangewend word om die vrywilligers, wat dié tuine moet onderhou, 'n dagloon te betaal."
Die HHCPO-span wil graag Felicity Davids bedank, wat hul opruimingswerk by Bridgton-crèche moontlik gemaak het. Emile sê hulle wil graag almal bedank wat van die begin af deel was van die projek.
"Ons wil ook elke persoon bedank wat tot dusver donasies gegee het en gehelp het met die vervoer van die vrywilligers. En natuurlik Lekkerbek Take-Aways se eienaar, Jerome Opperman, wat altyd gewillig is om vir die span iets te ete te borg as hulle iewers in die dorp werksaam is."
Vrywilligers van die Helping Hands Community Projects Oudtshoorn (HHCPO) Dinsdagoggend besig om die skoolterrein by die Bridgton-crèche skoon te maak. Vierde van links staan die projekbestuurder, Emile Cupido gebukkend. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'