Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Nóg reën word verwag en inwoners word gevra om steeds met groot versigtigheid die paaie te gebruik.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het vanoggend 10 April, in 'n verklaring gesê die laagwaterbruggies in Kerk-, Van Der Riet-, Albert- en Rademeyerstraat is steeds toe weens sterk watervloei.
"Die paaie is gesluit weens die Grobbelaarsrivier wat in vloed is. Padgebruikers moenie die watervlak onderskat nie en asseblief van alternatiewe roetes gebruik maak."
Die Rooiheuwelpad is ook steeds gesluit is, weens die laagwaterbrug wat oorloop.
"Die rivier vloei uiters sterk en die publiek word versoek om nie daardie roete te gebruik nie."
Die laagwaterbrug tussen die De Jager-sportkompleks en die Queens Mall.
Die Swartbergpas is steeds gesluit, maar Meiringspoort, die Outeniquapas en die Kangogrotte-pad is oop.
Die laagwaterbruggie in St. Johnstraat. Foto's: Henley Scholtz
Sy het verder gesê dat alle besproeiingswatergebruikers wat roosters in die sloot het, versoek word om dit uit te haal.
"Daar is stormwater wat in die slote loop, en dit veroorsaak verstoppings wat inwoners se huise stroomop oorstroom. Ons versoek ook dat die roosters asseblief skoongemaak word."
Van der Rietstraat
Die Raubenheimerdam is tans 80,12% vol.
"Reënval by die dam vir die afgelope week is tot dusver 81 mm en die reënval in die dorp vir die laaste week is tot dusver 70 mm." Burgemeester Chris Macpherson, bedank graag motoriste wat al die nodige voorsorg tref deur die waarskuwings na te kom, asook inwoners wat probleemareas aanmeld.
“Baie dankie ook aan ons werkers wat die afgelope aantal dae uit hul pad gegaan het om skade te herstel en opruimingswerk te doen.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’