OUDTSHOORN NUUS - Harriet Marais, 'n Nederlander, wat nou in Oudtshoorn woon, is betrokke by Global Serving Hands, 'n kleinskaalse Nederlandse, nie-winsgewende organisasie wat dit moontlik maak vir jongmense om 'n unieke ervaring op te doen as 'n vrywilliger in onderwys, natuur- of gesondheidsorg in Suid-Afrika, of om op 'n sendingreis te gaan. Die organisasie is al 'n geruime tyd betrokke by Scrosoppi-sorgsentrum en daar is tans 'n paar studente van Nederland en Duitsland.
Kinders verbonde aan die Scrosoppi-sorgsentrum in Oudtshoorn het ter viering van Erfenisdag op 27 September, verlede week besoek afgelê en kunswerke van hul hande verewig op van die mure by Buffelsdrift.
Global Serving Hands en Buffelsdrift Game Lodge
Onlangs het hul hande gesmee met Buffelsdrift Game Lodge waar geleentheid gebied is vir vrywilligers om as eko-ambassadeurs by die reservaat te werk. Die reservaat bied 'n omvattende vrywilligersprogram in 'n prettige, veilige, stabiele en pragtige omgewing vir vrywilligers. Veral vir oorsese vrywilligers is dit 'n ongelooflike ervaring om te onderneem met 'n unieke kombinasie van eko-bearing en gemeenskapswerk.
Volgens Marais is die ervaring uiters besonders vir hul vrywilligers. "Dit is besonders om in Oudtshoorn met die jeug te werk, asook om 'n indrukwekkende wild ervaring op te doen met diere waarvan hul net kan lees, en eerstehands in die veld te kan ervaar. Elke vrywilliger voel onmiddellik tuis in Oudtshoorn en gaan terug Europa toe met heelwat herinneringe wat net die Klein-Karoo kan bied."
Hoewel dit dalk soortgelyk is aan heelwat ander trots Suid-Afrikaanse vrywilligersprojekte, is Buffelsdrift se droom vir elke persoon wat hul teëkom om 'n leefstylverandering te hê om na bewaring en lewende bewaring te dink.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’