OUDTSHOORN NUUS - "Oom Manie was 'n meester ambagsman, geliefd onder ambagsmanne, hardwerkend, ferm en iemand wat nie kort paadjies gevat het nie."
So het Morné Pietersen Saterdag 11 Januarie in 'n stampvol Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk sy oudbuurman, Hermanus 'Oom Manie' Sarels (69), in 'n roerende huldeblyk beskryf.
Volgens Pietersen sal hy Sarels onthou as 'n gefokusde streng persoon wat geglo het dat die agteros ook in die kraal kom. Hy het drie weke voor sy dood gaan kyk of sy graf reg is en gesê dat hy op 1 Januarie 'huis toe' gaan.
Sarels se skoonseun, vader Bronwynn Weilbach van die All Saints Anglikaanse Kerk, Mosselbaai, wat die begrafnisdiens saam met ds. André Boezak waargeneem het, sê hy sal sy 'Dedde' onthou as 'n man wat aan twee woorde vasgeklou het - 'Ek glo'.
Volgens hom was sy skoonpa 'n vader en man duisend. 'Dedde' was 'n wyse man. Hy het met ander oë na die wêreld gekyk en aftree was nie deel van sy lewe nie.
Reginald Lewis, iemand wat Sarels laat in sy lewe ontmoet het, het in sy huldeblyk gesê dat Sarels 'n baie groot impak op sy lewe gemaak het.
"Ek het hom as 'n eenvoudige, pragtige mens leer ken, 'n plat-op-die-aarde mens sonder fieterjasies en daarvan getuig sy eenvoudige kis."
Volgens Sarels is die geboue wat Sarels saam met sy vennoot Phillip Swigelaar gebou het bakens van hoop. "Hy het baie van Swigelaar gepraat en vertel watter groot, groot respek hy vir hom gehad het."
Boezak het die Sarels-familie getroos na aanleiding van Spreuke 22:27 wat lui: "Sien jy 'n man wat vaardig is in sy werk- hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie."
Sarels laat sy vrou, Eveline, met wie hy 47 jaar getroud was, twee dogters, Peuney Weilbach en Shumelia Lewis, twee seuns, Winston en Wayne, agt kleinkinders en een agterkleinkind agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’