OUDTSHOORN NUUS - Sluikhandel in onwettige sigarette hou 'n direkte bedreiging in vir plaaslike tabakboere.
Agri SA is bekommerd oor die toename in onwettige tabakhandel nadat 'n onlangse Ipsos-kleinhandeloudit gewys het dat belastingontduiking so erg toegeneem het dat byna een uit elke vier sigarette onwettig verkoop word.
Volgens dié verslag het die onwettige verkoop van sigarette in die drie maande sedert die eerste Ipsos-oudit vanaf 33,1% toegeneem tot 41,8%. Dit het daartoe gelei dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nou minstens R8 miljard aan aksynsbelasting verloor.
"Dié sluikhandel is 'n direkte bedreiging vir meer as 350 plaaslike tabakplase landwyd," sê Pietman Roos, Agri SA hoof van korporatiewe sake en kommunikasie.
Die onwettige sigarette word hoofsaaklik vervaardig van tabakblare uit buurlande, wat lei tot 'n afname in die vraag na tabak van plaaslike produsente wat vir die wettige mark produseer.
"Tabakplase in Suid-Afrika, waarvan 155 in besit van swart kleinboere is, stel 1 000 mense in diens en ondersteun 30 000 afhanklikes in die landelike gebiede van Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en die Klein-Karoo en Oos-Kaap. Dié produsente is ten volle afhanklik van die wettige tabakbedryf in Suid-Afrika om hul produkte te koop," sê Roos.
Klein-Karoo-tabakboere
Vogens Jaco Malan, besturende direkteur van Universal Leaf SA, wat die produksie van lugdroogtabak ondersteun, verskaf die tabakbedryf in die Klein-Karoo sowat 500 direkte werksgeleenthede en dus ook 'n beduidende ekonomiese bydrae tot Oudtshoorn se ekonomie.
"Tans het die 34 tabakboere in die Klein-Karoo en Oos-Kaap, wat as eenheid bedryf word, altesaam 208 voltydse- en 312 seisoenwerkers, wat meer as 2 200 afhanklikes onderhou," sê Janno Koen, ULSA se agronoom in die streek.
Produsente wat vir ULSA tabak produseer, hou streng by internasionale standaarde met betrekking tot chemiese inhoud en residu, terwyl terselfdertyd in ooreenstemming met voorskrifte met betrekking tot arbeid, veiligheids- en gesondheidstandaarde opgetree word.
"Dit is kommerwekkend dat die tabakbedryf wat vir soveel boere, werkers en hul afhanklikes bied, deur sluikhandel in sigarette bedreig word – veral ook omdat die onwettige sigarette nie aan internasionale gesondheidstandaarde voldoen nie."
Volgens Francois van der Merwe van die Tabakinstituut van Suidelike Afrika (Tisa), moet waarskuwingsligte flikker wanneer sigarette teen minder as R20 per pakkie verkoop word.
Onwettige sigarette van onwettige handelsname Ceasar, RG, Savanna en Sharp, kos los sowat 50c per sigaret, of R10 vir 'n pakkie van 20. Die gemiddelde prys van 'n pakkie van 20 wettige sigarette van verskillende bekende handelsmerke is meer as R30.
Van der Merwe vra boere en die publiek om foto's te neem van die verpakking van die onwettige sigarette en die plek waar dit verkoop word en die inligting na Tisa by tisa@tobaccosa.co.za te stuur.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'