Update
OUDTSHOORN NUUS - "Ons soek vir Isak terug! Ons soek vir Isak terug! En waar gaan ons hom kry? Hier binne!"
Dit was die kreet wat deur 'n groep lede van die organisasie, Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) uitgebulder is tydens hul optog na die Oudtshoorn Infanterieskool in Parkweg op Dinsdag 15 Augustus.
FOTOGALERY: Optog vir vermiste weermagreservis
Die punt van die optog was om 'n memorandum aan die bevelvoerder van die Infanterieskool te oorhandig rakende die vermiste weermagreservis, Isak Thompson.
Thompson is reeds byna 'n maand vermis, en ná 'n soektog by die basis wat onder meer lede van die weermag, 'n helikopter en lede van die polisie se honde-eenheid ingesluit het, is daar nog geen teken van hom nie. Hy is op 19 Julie as vermis aangemeld, en het na bewering weggeraak met sy R4-dienswapen.
Volgens Leon Campher, lid van OCAC en raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit, was hierdie soektog nie naastenby so deeglik soos wat dit moes wees nie, en is daar baie vrae wat nog deur die bevelvoerder van die Infanterieskool beantwoord moet word.
Campher het gesê dat die bevelvoerder verantwoordelikheid moet neem vir die vermiste Thompson, omdat laasgenoemde laas lewendig binne die Infanterieskool se gronde gesien is en hy van daar vermis geraak het.
"Hoe kan ons vertrou dat ons, die gemeenskap, se kinders veilig sal wees as hulle hierheen kom vir opleiding? Thompson was 'n seun, iemand se man en 'n pa! Hoe kon hy net weggeraak het en al sy besittings in die kamp agtergelaat het? Sy beursie, sy identiteitsdokument, sy klere - alles was nog daar, net nie Isak nie. Hier is 'n familie met baie vrae en die weermag moet daarop antwoord!"
Campher het gesê die soektog na Thompson het slegs vir 'n dag aangegaan, en dat dit totaal onaanvaarbaar is. "Hulle was meer bekommerd oor die vuurwapen! En tot nou toe het hulle nog geen ondersteuning aan die familie gebied nie. Daar is geen manier dat hulle in een dag die hele stuk grond waarop die Infanterieskool staan kon deursoek nie."
Met die aankoms van die groep OCAC-lede, wat familielede van Thompson ingesluit het, is die Infanterieskool se hekke gesluit en het lede van die skool se openbare orde-eenheid op gereedheid gestaan. Campher het beklemtoon dat die optog vreedsaam sou verloop en dat hulle slegs die memorandum met vrae aan die bevelvoerder wil oorhandig.
Vrae in die memorandum het onder andere gehandel oor hoekom die soektog na Thompson nie voortgesit is nie, hoe ver is daar na hom gesoek, hoe is dit moontlik dat iemand binne die gronde vermis kan word en hoekom die Thompson-familie nog geen ondersteuning ontvang het nie. In totaal was daar 30 vrae en is die Infanterieskool sewe dae gegee om daarop te antwoord.
Die Infanterieskool se bevelvoerder het egter met die aankoms van die OCAC-lede geweier om uit te kom en dit te ontvang. Dit het die inwoners, wat net langs die ingang vergader het, woedend gemaak. Hulle wou weet hoekom dan nie. Volgens Campher was daar vroeër 'n "driehoek-vergadering" waarin 'n woordvoerder van die weermag bevestig het dat een van drie senior lede van die weermag, insluitend die bevelvoerder, die memorandum sou ontvang.
"Jy maak nie reg met die familie nie meneer! Hulle verdien antwoorde, die gemeenskap verdien antwoorde," het Campher oor 'n luidspreker geskree in die rigting van die Infanterieskool.
Kolonel Soyiso Mantyi, tweede in bevel van die Oudtshoorn-polisie, teken ontvangs van die memorandum met vrae aan die Oudtshoorn Infanterieskool oor die vermiste Isak Thompson. By hom staan Leon Campher van Oudts-hoorn Community Against Crime en raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Hierna het kol. Soyiso Mantyi, tweede in bevel van die Oudtshoorn-polisie ingetree en met beide partye probeer gesels. Hy het aan Campher en die OCAC-lede bevestig dat die bevelvoerder geweier het om die memorandum te ontvang en geoffer om tussen-in te tree en te probeer om 'n pad vorentoe te bepaal. Mantyi het na lang redekaweling met Campher en ander uiteindelik ontvangs van die memorandum geneem en die groep betogers is vreedsaam uitmekaar, alhoewel hulle baie ontevrede was.
Campher het bygevoeg dat hy 'n petisie sal opstel en vir die verwydering van die Infanterieskool se bevelvoerder sal vra.
Anna Thompson, die bedroefde moeder van Isak, het min woorde gehad. "Ek soek net my seun terug! Ek is baie hartseer, maar iets laat my voel hy is nie dood nie, hy is daar binne iewers. Ons wil hom terug hê - hy het hiernatoe gekom en hier weggeraak. Ons het hom dan die Sondag voor sy opleiding hier kom aflaai."
Sy is ontsteld dat die polisie ingeroep is om na haar seun te soek en dat dit lyk asof die weermag opgegee het, "en dis nie reg nie! Ons is baie ongelukkig!"
Volgens haar is Thompson die pa van vier kinders, drie dogters en een seun waarvan een van die dogters binnekort haar matriekafskeid sal moet bywoon met haar pa wat steeds vermis is.
Thompson het ook drie broers. "Dis baie moeilik vir ons almal."
Vorige artikels:
- Optog na Infanterieskool vir vermiste soldaat
- Isak Thompson nog steeds vermis
- Weermaglid met R4 vermis
Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime spreek die skare toe. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’