OUTSHOORN NUUS - Die spreekwoordelike rooitapyt is verlede week letterlik uitgerol by die afskeid van die jare lange onderhoof van Sacred Heart Primêr, Jonathan Wicomb, toe die personeel en leerders hom gegroet en bedank het vir 'n dienstydperk van 41 jaar by die skool.
Die leerders het ook 'n erewag met dankie-sê-plakkate vir dié geliefde opvoeder gevorm.
Wicomb het in 1980 aan die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland afstudeer en die volgende jaar as jong onderwyser by die skool met sy onderwysloopbaan begin met wyle Aäron Rensburg as skoolhoof.
Hy is in 1995 bevorder tot departementshoof en twee jaar later tot onderhoof -'n pos wat hy tot sy aftrede beklee het. Hy het in 1996 ook sy BA-graad verwerf. Volgens Wicomb het hy ook deur die jare van tyd tot tyd as hoof waargeneem en was hy deurgaans by alle fasette van die skool betrokke.
Hy was aankondiger by talle plaaslike en streek-trompoppietoernooie; later nasionaal, en in 2018 as een van die aankondigers by 'n wêreldbyeenkoms in Kaapstad wat hy as 'n baie groot hoogtepunt beskou.
Volgens Wicomb beskou hy dit as 'n eer en groot voorreg om betrokke te kon wees in die vorming van duisende leerders wat deur sy hande gegaan het. "Ek het altyd die kinders aangemoedig om hard te werk sodat hulle meer as ek kan verdien." Sy groot bekommernis vandag is egter die groot aantal kinders wat langs die pad verlore raak deur nie verder skool te gaan nie.
Wicomb sê dat hy die skool waarvoor hy so lief geword het natuurlik sal mis, maar terselfdertyd sien hy ook daarna uit om sy aftrede te geniet. "Vir nou wil hy eers net bietjie rus en die skool uit my gestel kry. Dan wil ek en my vrou (Marita) rondreis en meer by ons kinders en veral die kleinkinders gaan kuier. Ek gaan ook my betrokkenheid by die kerk voortsit," het hy bygevoeg.
Die prinsipaal van Sacred Heart vir die afgelope agt jaar, Godfrey McCallum, sê hy sal Wicomb onthou vir die streng dissipline wat hy gehandhaaf het, sy pligsgetrouheid en sy passie vir die onderwys. "Wicomb was reguit en eerlik met almal en 'n mentor vir jong onderwysers en onderwyser-assistente," het McCallum gesê.
Die personeel van Sacred Heart skryf op hul Facebook-blad dat hulle Wicomb baie sal mis veral vir sy ondersteuning, sy besondere sin vir humor en sy raakvat-eienskappe.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'