OUDSTHOORN NUUS - Die speaker van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Colan Sylvester, het die week as speaker bedank.
Hy behou egter sy stoel as Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI)-raadslid, maar die OGI het hul koalisie met die ANC verbreek.
Patrick Sambo, sekretarisgeneraal van OGI, sê in 'n verklaring dat hulle na die verkiesing op 1 November 2021 besluit het om in koalisie met die ANC, Saamstaan, Icosa, Patriotic Alliance en die Dysselsdorp Advieskantoor te gaan, maar dat die koalisie nie vir hulle werk nie.
"Die partye het [in November] ooreen-gekom dat 'n koalisieooreenkoms saamgestel word. 'n Konsepooreenkoms is deur OGI saamgestel en met ander partye bespreek. 'n Konsepooreenkoms van die ANC is ook in aanmerking geneem met die saamstel van 'n finale konsepooreenkoms."
Volgens hom was daar egter probleme binne die koalisie en is die ooreenkoms nooit deur die partye geteken nie. Volgens Sambo was daar ook onwettige inmenging deur koalisievennote in die opstel van tenders, eensydige salarisaanpassings van vyf werkers se salarisse deur die waarnemende munisipale bestuurder sonder dat enige administratiewe prosedure gevolg is, en aandrang van koalisievennote op poste (politieke aanstellings) waarvoor nie begroot is nie.
Tydens die raadsvergadering van 17 Desember 2021 is daar besluit om die kontrak van die waarnemende munisipale bestuurder te beëindig.
Hierdie besluit is deur die raad tydens 'n spesiale raadsvergadering op 22 Desember verander sonder dat die besluit van 17 Desember teruggetrek is. Op 22 Desember het OGI se uitvoerende bestuur besluit om uit die koalisie te onttrek.
Sylvester sê in sy bedankingsbrief dat die plaaslike munisipale wetgewing bepaal dat raadslede die funksies van hul amp in goedertrou, eerlik en op 'n deursigtige wyse moet uitvoer en te alle tye in die beste belang van die munisipaliteit moet optree.
"OGI sal deel vorm van die opposisie in die Oudtshoorn-raad en ons kiesers inlig oor gebeure in die raad. Ons sal 'n waghondrol speel om te verseker dat die bronne en dienste van die munisipaliteit nie misbruik word nie," het Sambo gesê.
Vlancio Donson, onderburgemeester en Icosa-raadslid, het die week gesê dat die koalisiepartye oortuig is dat Sylvester se bedanking kom na raadslede in Desember verlede jaar, voor die resesperiode, 'n aanduiding gegee het dat hulle 'n mosie van wantroue teen hom wil indien.
"Die kennisgewing rakende die mosie is op 22 Desember ingedien. Dit het gevolg na die meerderheid raadslede vir 'n vergadering gevra het en hy dit nie wou toestaan nie." Die mosie sou by die eerste raads-vergadering van 2022 ingedien word, en is deur Mlandeli Nyuka van Saamstaan en Leon Campher van Dysselsdorp-advieskantoor onderteken.
Oor die aantygings oor onwettige aanstellings, bedrog en korrupsie, sê Donson, dat Sylvester as speaker die mandaat het om die lede wat die gedragskode oortree te ondersoek. "Hy het egter nooit enigiets gesê oor lede wat verkeerd optree nie en hy het dit ook nooit ondersoek nie. Hy het ook nooit die raad ingelig oor enige oortreding of onwettige aanstelling van die munisipale bestuurder nie."
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê dat hulle bewus is van die bewerings wat tans op sosiale media versprei word.
"Dit skep 'n baie slegte beeld van die munisipaliteit. Van die bewerings wat gemaak word, is die aanstelling van die waarnemende munisipale bestuurder, beweerde onregmatige salarisverhogings en tenderinmenging."
Volgens burgemeester Chad Louw bepaal die munisipale wet dat indien die voorsittende beampte van 'n raad vermoed dat onregmatighede binne die raad plaasvind, hy ondersoek daaroor moet instel.
"Die raad het steeds geen klag van enige van die genoemde aantygings ontvang nie."
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'