OUDTSHOORN NUUS - Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is hulle in die proses om 'n R2 miljoen skeepsvraghouerprojek op die been te bring.
Hierdie projek word beplan vir nie later as Oktober nie en gaan opgerig word langs die Bongolethu-polisiestasie, aangrensend tot Thusong-sentrum as 'n verlenging van Thusong.
Tydens die onlangse Small Town Regeneration (STR) program wat by Surval-olyflandgoed gehou is het burgemeester, Chad Louw, in sy toespraak genoem dat daar R2 miljoen bekom is om 'n skeepsvrag-houerprojek vir opkomende besighede, op die been te bring.
Fondse is bekom nadat Oudtshoorn-munisipaliteit 'n aansoek ingedien het by die Booster Fund van die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme. Dié aansoek is deur die vorige raad goedgekeur.
Die projek word op die been gebring om opkomende besighede wat 'n ekonomiese hupstoot nodig het ten opsigte van hulle bedryfsuitgawes, maar meer spesifiek huur en koopkrag kostes, te ondersteun.
Die projek is reeds aan die publiek bekend-gestel, aansoeke ontvang en na afloop van die onderhoudsproses is 10 gepaste kandidate geïdentifiseer.
Die besighede wat deel gaan vorm van die skeepsvraghouerprojek wissel van begrafnisondernemers tot kruideniersware winkels.
Tans is daar 'n tenderproses aan die gang om die skeepsvraghouers aan te koop en die suksesvolle tenderaar moet die skeepsvraghouers volgens die aangeduide spesifikasies aankoop.
Die uitlegplan sal soos per die tenderdokumente, waarvan die suksesvolle diensverskaffer moet werk, opgerig word. Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit is hulle nog in die proses om 'n bepaling te maak rakende die huur van 'n skeepsvraghouer, maar dit sal teen 'n minimale bedrag uitverhuur word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'