OUDTSHOORN NUUS - Die bekende diereliefdadigheids-organisasie, Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), het die afgelope naweek hul diere wat gereed is om aangeneem te word na 'n nuwe perseel in George geskuif.
Colleen Smith, voorsitter van ODIN, sê hulle is geweldig opgewonde oor die nuwe hoofstuk.
"Ons het lankal 'n nuwe perseel gesoek, want die munisipale skut se perseel was eenvoudig te klein om al die diere te huisves. Ons sou in Oudtshoorn 'n nuwe perseel kon kry, maar daar sou ongelooflik baie uitgawes wees omdat ons ondermeer die hokke moes bou. Tantivvey in George was eenvoudig die beste opsie. Die skut behoort aan 'n boer en hy het ingestem om die perseel aan ons te verhuur. Die hokke is fantasies vir ons diere en die omgewing is eenvoudig net mooi. Daar is water waar hulle kan gaan swem op warm dae en meeste van die honde het vir die eerste keer op gras gespeel," het sy vertel.
Volgens haar eindig die dienste in Oudtshoorn glad nie.
"Ons is Oudtshoorn Dogs in Need. Ons werk nog steeds in Oudtshoorn. Ons is ook nie van plan om enige diere-organisasie in George se werk oor te neem nie. Die perseel in Oudtshoorn gaan dus gebruik word as rehabilitasie- en opvoedingsentrum waar ons die siek troeteldiere gaan behandel en die eienaars leer hoe om beter na hulle diere om te sien. Die diere wat gereed is vir aanneming gaan George toe. Ons gaan ook 'n dierehawe daar oopmaak waar ons troeteldiere teen 'n prys kan oppas wanneer hulle eienaars met vakansie is."
Smith sê die ondersteuning wat hulle in George ontvang is ongelooflik.
"Meeste van ons aannemings gebeur aan daardie kant van die berg. Meeste van ons fisies ondersteuning, mense wat met die honde stap en fisies by die skut help kom ook van anderkant die berg. Die ondersteuning wat ons in die eerste drie dae veral ontvang het was oorweldigend. Daar is elke dag mense wat met die honde kom speel, met hulle gaan stap en sommer net aandag gee. Daar was reeds 'n groot hoeveelheid aannemings ook gewees. Dit dui daarop dat die besluit om aannemings te skuif die beste besluit was."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'