OUDTSHOORN NUUS - Die perseel op die hoek van Langenhovenweg en Rade-meyerstraat, wat binnekort die splinternuwe winkelsentrum, Klein Karoo Markt, gaan wees, is 'n miernes van bedrywighede om te verseker dat die deure op 26 April volgende jaar sal oopmaak.
Die sentrum, met 'n oppervlak van 14 000m², word teen 'n koste van R340 miljoen gebou en sal 'n groot hupstoot vir die plaaslike ekonomie wees. Die argitek van hierdie projek, Farns Farmer, het altesaam 26 winkelsentrums agter sy naam. Sy uitgebreide ervaring en visie is duidelik sigbaar in die moderne ontwerp en funksionaliteit van die Klein Karoo Markt.
Hoeveelheid winkels
Volgens André van der Merwe van Ruwacon, en die terreinbestuurder, sal dit prematuur wees om op hierdie stadium te sê presies hoeveel winkels in die sentrum sal wees.
"Hoewel daar voorsiening gemaak word vir ongeveer 38 winkels, kan dit minder of meer raak, maar nie met veel nie. Ons het 'n vloerplan waarvolgens ons werk, maar as ons sien dat 'n besigheid meer vloerspasie kan nodig hê, kan ons dalk twee kleiner winkels een winkel maak of anders om. Die besighede wat aansoeke instuur moet goedgekeur word en die prosesse is nog aan die gang."
Verskeie vloerplanne met name van besighede doen tans die ronde op sosiale media, wat volgens hom verwarring skep.
"Die planne is voorlopige planne of voorbeelde. Niks daarop is finaal nie en daar is baie dinge wat nog kan verander."
Die spanne is hard aan die werk om die sentrum op tyd oop te maak. Foto: Liezl van Niekerk
Rademeyerstraat
Volgens Van der Mewe gaan daar ook veranderinge aan Rademeyerstraat aangebring word om die druk van die verkeer te verlig. Hy het verduidelik dat die grensmuur van die Baronie-woonkompleks aan die oorkant van die winkel-sentrum met ongeveer drie meter terug gaan skuif sodat die pad verbreed kan word. Daar gaan ook 'n verkeersirkel voor die hoofingang van die sentrum gebou word.
Plaaslike arbeid
Wat hierdie projek besonders maak, is die sterk fokus op plaaslike betrokkenheid. Van die konstruksie tot die voltooiing, sal die oorgrote meerderheid werkers op die perseel plaaslike werkers wees.
Van der Merwe het bygevoeg dat daar nie 100% van plaaslike werkers gebruik gemaak kan word nie, omdat hulle spesifieke kontrakteurs vir spesifieke projekte aanstel en hulle maak van hul eie werkers gebruik wat kennis en opleiding het oor onder andere die masjinerie, om te verseker dat die bouwerk aan die hoogste standaarde voldoen.
Daar moet ook in ag geneem word dat die projek in fases gebeur en dat dit ook is hoe aanstellings gemaak word. Hy het ook die versekering gegee dat daar te alle tye gemeenskapskakelbeamptes op die perseel is om met die publiek te kommunikeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’