KAROO NUUS - Kaptein Anna-Marie Adonis (48) is onlangs as nuwe speurhoof van Ladismith aangestel. Haar doel is om op die jeug te fokus om misdaad so vroeg as moontlik aan te spreek.
"My liefde vir mense, die omgeepersoon wie ek probeer wees en die feit dat ek graag die selfbeeld van mense wil bevorder was die grootste dryfveer agter my besluit om tot die polisiediens toe te tree," vertel Adonis.
Sy is van Beaufort-Wes afkomstig en is die vierde oudste van 12 kinders.
Haar loopbaan in die polisie het op 1 Oktober 2001 in Leeu-Gamka begin. Sy is later na Murraysburg oorgeplaas, maar is weer terug na Leeu-Gamka waar sy uiteindelik tot die rang van kaptein bevorder sou word. Sy noem dat sy deur haar voorbeeld vir ander kan wys dat, ongeag jou omstandighede, jy steeds kan uitstyg.
"Gesinsgeweld, drank- en dwelmmisbruik onder die jeug, is euwels wat ek met my hele wese wil bestry en help uitwis. Ek wil 'n kadettegroep hier in Ladismith begin waar ek die waardesisteem aan die jeug wil beklemtoon. Hulle selfbeeld moet verbeter, asook hul kennis met betrekking tot die verloop van die regsproses."
Dit is gou baie duidelik dat sy eerder gefokus is om voorkomend op te tree as regstellend.
Adonis, wat 'n graad in polisiekunde op 39-jarige ouderdom verwerf het, sê haar boodskap aan die jeug is: "Moenie aan iemand anders doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Indien jy nie gehoor wil gee nie, gaan jy beslis met die volle mag van die polisie te doen kry wat baie dikwels jeugdiges knak en veroorsaak dat hulle later geharde misdadigers word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’