OUDTSHOORN NUUS - Die Saamstaan Suid-Afrika-saga duur voort, met verskillende groeperinge in die party wat telkens "saamstaan" om die party te lei.
Saamstaan SA het onlangs tydens hul algemene jaarvergadering (AJV) by die Toekomsrus-gemeenskapsaal, weer 'n nuwe uitvoerende partybestuur verkies.
Dié sewe bestuurslede is Minnisa Adams (nasionale tesourier), Sarah Collins (mediabeampte), Liezel Claassen (visepresident), Abraham Prins (president), Johny-boy Samson (sekretaris-generaal) en Adriaan van Niekerk (addisionele lid). Hans Malgas sal voortaan as Saamstaan se regsbeampte ook deel uitmaak van die bestuur.
Hofbevel met koste verwerp
Dit volg na die Kaapse hooggeregshof op 14 Julie die groen lig gegee het dat die AJV wel mag plaasvind. Die party se interim-leier, Schapiro Michaels, wou vooraf die vergadering keer en het 'n dringende hofbevel by die Kaapse hooggeregshof probeer bekom.
Michaels se poging is met koste van die hand gewys wat beteken dat hy ook Saamstaan se regskoste moet betaal. Saamstaan is deur prokureur Hardy Mills, 'n plaaslike regeringspesialis van Plettenbergbaai, verteenwoordig.
Hans Malgas, Saamstaan se regsbeampte, het Michaels van magsug beskuldig.
"Dit is jammer dat Michaels, nes sy voorganger Mlandeli Nyuka, tot sulke uiterstes deur magsbeheptheid aangevuur is. Hy moes nou op 'n harde manier deur 'n kostebevel leer dat dit moeilik is om teen die prikkels van geregtigheid en demokrasie te skop.
"Ons hoop egter dat dit hom tot inkeer sal bring van sy afvalligheid van die party teenoor wie hy eens lojaal was. Ons wil dit ook duidelik stel dat Michaels en sy vrou, Veronica, sedert
4 Mei 2023 nie meer lede van Saamstaan is nie. Weens die aard van hulle klagtes is die twee onmiddellik ontslaan in lyn met ons party se dissiplinêre kode.
"Die enigste rede hoekom Michaels se vrou, Veronica, ondanks sy en haar man se ontslag uit die party steeds in Junie 'n raadslid geword het, was omdat hy sonder die party se goedkeuring sy vrou se naam by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingegee het. Omdat Schapiro op daardie stadium as Saamstaan Suid-Afrika se amptelike korrespondent by die OVK geregistreer was omdat hy toe interim-president was, was sy woord alleen bindend. Die nuwe Saamstaan Suid-Afrika bestuur wat by ons AJV verkies is verander egter alles en is Veronica se dae as raadslid getel," het Malgas gesê. Michaels het by navraag gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie.
Ontwrigting by AJV
Volgens Malgas het 'n groep mense die AJV telkemale ontwrig omdat hulle aan die leierskapverkiesing wou deelneem.
"Die delegasie was ontsteld hieroor en die voorsitter het sekerheidsbeamptes opdrag gegee om hulle te verwyder. Die ervare regsgeleerde Jacobus 'Prof' du Plessis, het koelkop in beheer van die vergadering gebly en moes die oproeriges ten einde laaste die aftog blaas. Die stemproses het vreedsaam voortgegaan. Uit die 13 takke van Saamstaan, wat elk 'n munisipale wyk in Oudtshoorn verteenwoordig, het 11 takke aan die verkiesing deelgeneem," het Malgas gesê.
Agtergrond
Saamstaan Suid-Afrika het op 19 April vanjaar, met Malgas en Michaels as 'n eenheid op die voorpunt, die hofsaak gewen om die party se stigter en raadslid Mlandeli Nyuka, te vervang. Michaels se vrou, Veronica, het toe Nuyka se vakante raadstoel ingeneem.
Veronica Michaels
In 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant het Veronica Michaels gesê dat sy betroubaar verneem het dat daar slegs vyf van die party se agt takke toegelaat is om tydens verlede Saterdag se AJV te stem.
"Sommige lede wat die AJV bygewoon het, is volgens my inligting bloot toegang geweier deur sekuriteit wat slotte aan die hek gesit het.
"Ek en my man, Schapiro, het besluit om nie die AJV by te woon nie omdat ons vroeër in die maand 'n kriminele klag by die polisie teen individue binne in die Saamstaan Suid-Afrika se geledere gelê het. Die klagte handel oor 'n brief wat onwettig namens my geskryf is waar ek Schapiro glo van die partylys afgehaal het. Schapiro se handtekening is ook vervals.
"Ek en Schapiro kon dus nie die AJV bywoon nie, omdat die onwaarhede wat dié Saamstaan-opposisie versprei, ons sal bind aan die resolusies wat geneem word by die AJV. Ek en Schapiro se sogenaamde skorsing staan ons teen omdat ons geskors is deur 'n individu wat nie 'n lid van Saamstaan is nie. Met ons skorsing is daar ook geen prosesse gevolg of enige klagtes verskaf waarom ons aangekla is nie, dus wag ons nou vir uitspraak van die George-hooggeregshof op 24 Augustus wat sal bepaal of ons skorsing geldig is of nie," sê Veronica.
Munisipale bestuurder en burgemeester
Oudtshoorn se munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het by navraag aangedui dat hy skrywes van 'n Saamstaan-faksie ontvang het.
Volgens Hendricks het hy dokumentasie aangevra en kan die kwessie eers opgevolg word indien hy alle relevante inligting het - dus is daar op hierdie stadium geen vakature verklaar nie.
Burgemeester Chris Macpherson het op sy beurt gesê dat die koalisie wat met die president van Saamstaan Suid-Afrika, Schapiro Michaels gesluit is, steeds van krag is en dat interne kwessies van politieke partye hulle eie saak is.
OVK
Luidens 'n verklaring van die OVK het die kommissie geen kennisgewing van 'n vakante vakature van die munisipale bestuurder van Oudtshoorn rakende Saamstaan Suid-Afrika ontvang nie. "Volgens OVK-rekords is Schapiro Michaels die leier van die Saamstaan Suid-Afrika-party."
Veronica Michaels. Foto: Wyndham Ewerts
Van links is Hans Malgas, adv. Stephan Kleynhans en Schapiro Michaels in gelukkiger tye saam direk na die hofuitspraak in April toe hulle suksesvol die hofsaak gewen het om die party se stigter en raadslid Mlandeli Nyuka, te vervang. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’