BEAUFORT-WES NUUS - Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Albert Fritz, het Woensdag die departement se nuwe kantoor in Beaufort-Wes geopen.
Volgens Fritz se woordvoerder, Sihle Ngobese, spog dié nuwe fasiliteit van R16,9 miljoen met wêreldgehalte geriewe vir die publiek en is heeltemal toeganklik vir persone met gestremdhede.
"By die kantoor is 'n bestuurder wat oor 'n span van twee maatskaplike toesighouers, agt maatskaplike werkers, ses maatskaplike-hulpwerkers en twee assistent gemeenskapsontwikkelingwerkers sal toesig hou. Hier gaan hulle veral daarop fokus om dienste aan kinders te lewer," lui sy verklaring.
Volgens Ngobese is dit die tweede plaaslike kantoor wat oor 'n spesiale kinderterapiekamer beskik.
"Die kinderterapiekamer van R35 000 stel maatskaplike werkers, wat spesifiek op kinderbeskerming fokus, in staat om kinders wat fisies-, emosioneel- en / of seksueel misbruik is, by te staan."
Fritz het in sy toespraak die belangrikheid van goeie maatskaplike dienste in landelike gemeenskappe uitgelig.
"Ons bou die fasiliteite in ons gemeenskap sodat julle, ons maatskaplike werkers, toeganklik vir kinders en hul families kan wees."
Die dienste wat deur Beaufort-Wes se maatskaplike kantore gebied word is, kindersorg en -beskermingsdienste, ondersteuning aan dwelmmisbruikers, familie en ouer ondersteuningsdienste en ook dienste aan bejaardes en persone met gestremdhede.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'