OUDTSHOORN NUUS - Die Volkskerk van Afrika Oudtshoorn het na drie herderlose jare weer 'n voltydse leraar in ds. Ebraimilde Ruzaan Booysen (42).
Booysen, 'n boorling van Oudtshoorn, is Saterdagmiddag deur ds. Louis Jansen, moderator van die kerk, as vyfde leraar van die gemeente bevestig nadat hy vroeër die dag op die De Rust-pad ontmoet is en deur 'n blaasorkes begelei is na die kerk se pastorie in Colridge View waar hy by die pastorie ingeseën is.
Jansen het Booysen namens die sentrale raad van die Volkskerk van Afrika verwelkom en die gemeente geloof vir die besondere wyse waarop hulle die beroep hanteer het.
Booysen het Sondagoggend sy intreepreek in 'n stampvol kerk gelewer en beklemtoon dat hy nie as leraar van familie of vriende na Oudtshoorn gekom het nie, maar vir die gemeente van die Volkskerk Oudtshoorn en sy buiteposte.
Hy het in 'n treffende boodskap na aanleiding van Markus 4:35 die gemeente genooi om saam met hom in die skuit te klim en na die oorkant te vaar. "Dit is 'n voortvaart en nie 'n wegvaart."
"Jy kan net aan die ander kant kom as jy op die skuit klim," het Booysen onder groot toejuiging gesê.
Hy het beklemtoon dat dit nie saak maak waar jy woon of wat jou status is nie en gesê dat hy nie die leraar van sy familie of vriende is nie, maar vir die gemeente van die Volkskerk van Oudtshoorn en sy buiteposte.
"Ek is nie deur 'n individu beroep nie, maar deur die gemeente. Kom ons praat nie van mekaar nie, maar met mekaar. Kom ons was mekaar se voete en nie mekaar se koppe nie. Laat ons dade harder spreek as ons woorde."
Booysen is in 2012 deur die voormalige moderator van die genootskap, dr. Donald Katts, te Oudtshoorn georden en later na Kimberley beroep waar hy vir twaalf jaar gedien het.
Hy was lid van die Kimberley Central Ministers Forum waar hy gedien het as sekretaris en later ook as voorsitter.
Sedert sy ordening dien hy die kerkgenootskap op verskillende vlakke, onder andere as skriba van die leraarsraad, lid van die raad van eksaminatore en is tans die Skriba Synodi van die kerkgenootskap.
Hy is in 2015 met Julia Farland van Riversdal getroud en hulle is die ouers van 'n 18 maande baba, Bethany Gia.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’