OUDTSHOORN NUUS - Sonia Wahl is 'n nuwe joernalis wat die week by Oudtshoorn Courant begin werk het. Meeste inwoners behoort Wahl as oudeienaar van Nice, 'n geskenkwinkel by die Queen's Hotel, te onthou.
Sy het vir ses jaar, tussen 2011 en 2016, in Oudtshoorn gewoon en het 'n passie vir die dorp.
Haar seun, Johann, is haar dryfveer agter alles wat sy doen dit.
Hy doen tans sy eerste jaar op universiteit waar hy meganiese ingenieurswese studeer.
"Na ek uit Oudtshoorn weg is, het ek in George gaan woon waar ek eers by 'n hoërskool by die finansies betrokke was en daarna by 'n finansiële instelling gewerk het. My groot droom was eintlik nog altyd om 'n joernalis te word.
"Nou vandat my seun op sy eie kan aangaan en sy universiteitsloopbaan begin het, het ek besluit dat daar nie 'n beter tyd as nou is om my droom te volg nie. Ek wou nog altyd net skryf."
Wahl sê sy wil graag Oudtshoorn en die omliggende streke se stories met almal deel.
"Ek sien so baie uit daarna om mense se stories te begin vertel."
Enigiemand wat nuusbrokkies het kan dit met Wahl by 072 445 4438 of sonia@groupeditors.co.za deel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'