Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Rolspelers vanuit die plaaslike gemeenskap, Korrektiewe dienste en plaaslike besighede het twee weke gelede 'n projek aangepak om Sarie Kemoetie (75) se vervalle huis te herstel.
'n Spesiale geleentheid saam met al die rolspelers het op Mandeladag by die nuwe huis in Siyabongostraat 1, Bongolethu, plaasgevind.
Philip Seroux, nuwe voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was in gesprek met Oudtshoorn Courant oor die unieke projek.
"Ek loop al vir jare verby die huis wat in 'n afskuwelike toestand was, geen deure, geen vensters. Op 17 Junie het ek en ao. James Bowers, sektorbestuurder vir sektor 1 daar gestop en ons aan ouma Kemoetie gaan voorstel. Wat my dadelik getref het, was dat sy alleen in die vervalle huis in 'n rolstoel sit, dit het nie 'n goeie gevoel by my gelaat nie."
"Ons het dadelik besluit om die huis as 'n Mandeladag-projek reg te maak en het aan die werk gespring om rolspelers betrokke te kry.
Ek was verbaas toe rolspelers soos Theart Bouwerke, Gemkor en Built-it onmiddellik betrokke geraak het. Steven Fortuin het gehelp om deure te hang, ons is verstom hoe die gemeenskap saamgetrek het om die projek af te handel."
"Die erf is skoongemaak, die huis is opgeknap en alles wat stukkend was is vervang."
"Die laaste twee dae voor Mandeladag het almal ingespring om die huis klaar te kry, Korrektiewe dienste het 'n hele span gestuur. 'n Veilige draadheining is ook opgerig. Op Vrydag 18 Julie was ouma Kemoetie in trane toe sy haar 'nuwe' huis sien."
Fotogalery: 'n Nuwe Huis vir ouma
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’