OUDTSHOORN NUUS - Die Klein-Karoo spog met 'n nuwe fluweelwurmspesie, Peripatopsis barnardi.
Die spesie is die eerste wat nog ooit in die Klein-Karoo gevind is en is vernoem na 'n derdejaarstudent, Rohan Barnard wat op 'n plaas in die Swartberge tussen Calitzdorp en Oudtshoorn, besig was om klippe om te dop op soek na miere, reptiele en ander gediertes toe hy op die vonds van 'n leeftyd afkom.
Die wurm vorm deel van sewe nuwe fluweelwurmspesies wat gevind is.
Barnard het, met die wete hoe skaars die wurms is, dadelik foto's geneem en op iNaturalist, die biodiversiteitswaarneming-toep, geplaas.
Volgens Martin Viljoen, mediabestuurder by die Universiteit van Stellenbosch het Barnard 'n basiese kennis gehad van Kaapse fluweelwurms nadat hy in 2019 vir die eerste keer een op Tafelberg gekry het.
"Sy ouer broer was op daardie stadium besig om fluweelwurms te versamel vir 'n projek onder sy dierkundedosent, prof. Savel Daniels. Barnard is tans 'n derdejaar-BSc-student in bewaringsekologie en entomologie."
"Fluweelwurms se herkoms dateer meer as 500 miljoen jaar terug, wat dit 'n lewende oorblyfsel van die Kambriese tydperk maak. Met hul sagte lyfies en gelede pote, het hierdie gediertetjies oor miljoene jare heen baie min verandering ondergaan en daarom staan hul as 'lewende fossiele' bekend, verduidelik Viljoen.
"Min het Rohan geweet dat hy pas 'n nuwe fluweelwurmspesie ontdek het, wat nou gepas bekendstaan as: Rohan se fluweelwurm, of in wetenskapsterminologie, Peripatopsis barnardi.
Rohan Barnard. Foto: verskaf
Volgens Viljoen wat die ontdekking selfs meer merkwaardig maak is die feit dat dit die eerste spesie verteenwoordig wat nog ooit in die Klein-Karoo gevind is.
"Dit dui daarop dat die gebied histories meer woudagtig was as wat tans die geval is. Met ander woorde, met prehistoriese klimaatverandering en verdorring het die spesie geïsoleer geraak en spesiasie ondergaan."
Personeel van die US se departement plant- en dierkunde en veral vir prof. Daniels is dit merkwaardig dat so 'n prehistoriese stamlyn vandag steeds bestaan. Die resultate van Barnard se navorsing en aankondiging van die nuwe spesie is onlangs aan die wêreld in die vaktydskrif Ecology and Evolution bekendgemaak.
Daniels het nuwe mitokondriale en kern-DNS volgordebepalingstegnieke gebruik om te bepaal dat Peripatopsis barnardi ongeveer 15.2 miljoen jaar gelede van sy mees onlangse gemeenskaplike voorouer weggebreek het. Volgens Viljoen voel dit nog onwerklik vir Barnard dat so 'n fossielagtige skepsel na hom vernoem is en was sy kommentaar dat dit ongelooflik is om te dink dat hy 'n lewende fossiel ontdek het. Vir hom voel dit asof hy ' n vermiste skakel gevind het waarvan niemand geweet het nie.
Hoekom is fluweelwurms so uniek?
Soos die onvernietigbare waterbere (Tardigrades), word moderne fluweelwurms beskou as 'n aparte lyn van evolusie wat onafhanklik stam uit een of ander langvergete voorouer, waarskynlik die Hallicogenia. Fossiele toon dat fluweelwurms nie veel verander het sedert hulle ongeveer 540 miljoen jaar gelede van hul oerfamilielid af weggebreek het nie.
Dit beteken dat Onycophorians (hul voorsate) op aarde geleef het sedert wat bekendstaan as die Kambriese tydperk. Vandag leef moderne fluweelwurms op land en word slegs gevind in klam habitatte in gebiede wat oorspronklik deel van die antieke superkontinent Gondwana was.
Bron: Universiteit Stellenbosch
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’